GRAAFF-REINET SPORT NUUS - Stallions en United het verlede Vrydagaand kragte gemeet in 'n T20-krieketwedstryd op die Botaniese-sportveld. Stallions het United oortuigend met 63 lopies geklop en is onoorwonne in die reeks.
Stallions het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Na hul 20 boulbeurte het Stallions 114 lopies aangeteken vir die verlies van drie paaltjies. Drie vangskote is verbrou deur United en dit het hul saak glad nie versterk nie.
Samuel Bantom het uitstekend vir Stallions met die kolf gevaar en 36 lopies aangeteken met vier grenshoue. Alsandru Davids het blink gekolf en 36 lopies aangeteken, nie uit nie.
United het hierdie haalbare telling gejaag, maar kort-kort paaltjies verloor en was kniediep in die moeilikheid op 42 lopies vir die verlies van nege paaltjies.
Kort daarna is United almal terug in die kleedkamer vir 'n skamele 51 lopies.
Stallions se boulers het uitstekend gevaar met 'n wenprestasie van Michael Bantom wat vier paaltjies ingepalm het van net 3.1 boulbeurte en slegs 'n suinige drie lopies afgestaan. Jeftune September neem 3/17 en Benjamin September 2/10. Kriekettalent bruis duidelik in die spelers se are, want die Bantoms en Septembers is familie.
Uitblinkers vir Stallions is as volg:
- Samuel Bantom met sy 36 lopies en twee (2) vangskote;
- Alsandru Davids met 36 en een suksesvolle stonkkans;
- Michael Bantom met 16 en sy skitter boulsyfers;
- Jeftune en Benjamin September met die bal.
- Stallions speel hierdie Saterdagoggend om 10:00 teen Murraysburg, ook op die Botaniese-sportveld.
Samuel Bantom het uitstekend vir Stallions met die kolf gevaar.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'