GRAAFF-REINET NUUS - Die Stallions-krieketspan het Saterdag 4 Februarie korte mette gemaak met die besoekende span van Murraysburg tydens hulle T2-wedstryd op die Botaniese-sportveld in Graaff-Reinet.
Die wedstryd het 10:00 begin en Murrays-burg het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Sake het redelik vlot vir die besoekers verloop en na 10 boulbeurte het hulle 59 vir die verlies van drie paaltjies gehad.
Toe is dit JP Phillips, kaptein van Stallions se oomblik in die son. Twee vinnige paaltjies en 'n amperse driekuns en Murraysburg was almal terug in die hut vir 84 lopies.
Jeftune September het twee paaltjies vir 11 lopies ingeoes. Murraysburg het wel net nege paaltjies verloor, aangesien hul een speler gekort het.
Stallions het die wentelling van 85 met mening aangepak en na ses boulbeurte reeds 47 lopies op die bord gehad. Met Donovan Joubert aan die spits met 'n haastige 37 nie uit nie, is die nodige lopies vir 'n 9-paaltjie oorwinning in die 12de boulbeurt aangeteken.
Stallions speel Saterdagoggend, 11 Februarie, om 10:00 op die Fred Hufkie Oval in Kroonvale teen Aberdeen.
Donovan Joubert, puik kolwer van Stallions, het 37 lopies nie uit nie bygedra op pad na die wenteiken van 85. Foto's: Eddie Brett-Rite
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'