GRAAFF-REINET NUUS — Jong krieketspelers van heinde en verre het verlede Vrydag, 3 Maart, in Graaff-Reinet aan Matchpoint Krieket se mini-kriekettoernooi deelgeneem.
Dié toernooi het vroegoggend by die Botaniese Sportgronde afgeskop met 96 spelers van Graad R tot Graad 3 wat deur die loop van die dag in talle wedstryde hul talent op die krieketveld gewys het.
Leerders van onder andere skole soos Rietbron, Victoria-Wes, Middelburg, Colesberg. Union Preparatory School asook individuele spelers het tydens die geleentheid teen mekaar te staan gekom.
Ten spyte van die versengende hitte, het die spelers nie op hulle laat wag nie en het behoorlik met bal en kolf onder mekaar ingeklim.
Die hooforganiseerder en plaaslike krieketafrigter, Leslie du Piesanie, het aan die Advertiser gesê die toernooi was 'n groot sukses juis omdat dit meegehelp dat jong spelers wat van verskillende dorpe af kom, teen mekaar kon meeding en gesonde vriendskapsbande op en van die veld af kon smee.
Du Piesanie het gesê dat die toernooi hopelik weer in September die jaar gehou sal word en hy voorsien dat al meer spelers in die toekoms daaraan gaan deelneem.
Die organiseerders wens graag elke speler wat 'n prys - geborg deur Matchpoint Krieket en Hanlie Rodriques van Colesberg - ontvang het, geluk en spreek graag hul dank uit teenoor Willie van Rensburg van Botanies vir die gebruik van die fasiliteite asook aan almal wat 'n bydrae gelewer het tot die dag se sukses.
Diegene wat graag meer in verband met krieketlesse wil uitvind, kan Du Piesanie skakel by 072 686 1804.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'