ABERDEEN SPORTNUUS - Die atlete van Aberdeen Primêr wat Dr Beyers Naudé op 23 Februarie in Gqeberha by die Sarah Baartman-distriksbyeenkoms verteenwoordig het, het die skool se vlag sommer hoog laat wapper.
Joze Beyers het goud in die o.10-verspringitem verower, terwyl Ricardo Martins silwer gekry het in die o.12-hoogspringitem.
Beide atlete is nou in die Sarah Baartman-distriksspan wat op 10 en 11 Maart aan die OP-byeenkoms in Umtata deelneem.
Die ander atlete van die skool wat ook in Gqeberha deelgeneem het is Deoline Finnis in die o.13-1 500 m, Shalon de Beer in die o.12-80 m en Gladwell Ndongeni in o.12-gewigstoot.
Onderwyser Anthony Patterson, een van die afrigters, vertel dat die spannetjie in absolute vervoering was om in Gqeberha aan te kom - hulle eerste keer in die stad. "Ons was laat en Gladwell se gewigstootitem was eintlik reeds verby.
Ek het egter mooi gepraat totdat hy wel ook sy talent kon wys. Stel jou voor - ons ry al die pad en dan kan die kind nie deelneem nie - dis mos nie reg nie," vertel Patterson.
Onderwyser Doneve Noni, ook 'n afrigter, sê die atlete het almal hard en getrou geoefen om soete sukses te smaak. Onderwyser en afrigter Kevil Koester is kennelik trots op die atlete se prestasies.
"Ons is 'n klein skool. Ons werk met wat ons het en ons kinders weet ons is trots op elkeen van hulle."
Patterson sê mense vergeet dikwels van die onderliggende maatskaplike en finansiële uitdagings by so 'n klein plattelandse skool.
"Die kinders presteer so goed, maar dis moeilik – ek kom ook uit 'n huis waar geld nie volop was nie – en as Mammie sê daar is nie geld om na 'n byeenkoms te gaan nie, dan is daar nie geld nie. Ons aanvaar dit as deel van karakterbou, want dit maak kinders honger om uit te styg, maar dit is 'n werklikheid dat dit tog maar knaag wanneer 'n mens nie weet hoe jy by 'n plek gaan uitkom nie."
Die atlete is dankbaar teenoor die skool en onderwysers en Joze en Ricardo sien uit na die volgende ronde.
Joze Beyers het goud verwerf in verspring.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'