KAROO NUUS - Ouderdom is net 'n nommer - vra net vir Mixie Goedhals van Graaff-Reinet. Dié flukse atleet was Saterdag die eerste vrou om die Mountain Drive parkrun 50 keer te voltooi.
Dít, ses maande voor haar 70ste verjaarsdag.
"'n Mense is nooit te oud om jou doel te bereik deur harde werk en deursettingsvermoë nie," vertel Goedhals. "Dit is ook deur groot genade dat ek dit wel kon doen."
Sedert die parkrun se instelling in Graaff-Reinet laasjaar, is Goedhals 'n gereelde besoeker. "Ek stap in elk geval soggens, maar dit is so lekker saam met hierdie groep mense."
Goedhals het ook talle goeie vriende by die geleentheid gemaak.
"Ek het mense ontmoet wat ek nooit in Graaff-Reinet geken het nie, en bekendes raakgeloop wat ek min gesien het."
Goedhals erken dat die roete soms uitdagend is, maar moedig ander aan om ook deel te neem.
"Ek kan dit doen, mag dit 'n aansporing wees vir almal."
En wat is volgende vir Goedhals? "Nee," lag sy, "ek stop nou vir eers [met die doelwitte], en gaan dit net geniet."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'