Gallery
GRAAFF-REINET — Afrigters van Bestmed Madibaz Atletiekklub in Port-Elizabeth het die pas afgelope naweek 'n atletiek afrigtingskliniek in Graaff-Reinet aangebied.
Die kliniek is deur Hoër Volkskool gefasiliteer en op die skool se sportterrein gehou.
Sestig atlete en tien skoolafrigters het die geleentheid bygewoon.
Vrydagmiddag is die atlete afgerig op die baan volgens die nuutste afrigtingsmetodes.
Die onderskeie groepe was naellope, middelafstande, hekkies, hoogspring, verspring, diskus, spiesgooi en gewigstoot.
Waardevolle inligting is aan die atlete en skoolafrigters oorgedra wat die tegniek van die onderskeie items betref. Vrydagaand is die afrigters, wat die kliniek aanbied, met karoo gasvryheid by die Volksie-klubhuis onthaal.
Saterdagoggend het welkome reën die afrigting genoodsaak om binnenshuis plaas te vind.
Opwarming van die atlete is in die swembadkompleks gedoen. Die groepe het daarna verskuif na klaskamers in die skool vir verduideliking van tegniese aspekte en oefenprogramme. In die skoolsaal is afrigtingsvideos vertoon.
'n Afsluiting is toe gehou waartydens elke deelnemer aan die kliniek ‘n bywoningsertifikaat ontvang het. Die atlete en afrigters is beslis nou beter voorberei vir die seisoen wat voorlê.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'