GRAAFF-REINET NUUS - Die grootste saamtrek ter wêreld van atlete met Down-sindroom is deur ‘n talentvolle sportvrou van Graaff-Reinet bygewoon.
Rentia Oosthuizen (26) het vanaf 4 tot 10 Oktober as deel van die Suid-Afrikaanse span in Madeira, Portugal, deelgeneem aan die vyfde Wêreld-atletiekkampioenskap vir atlete met Down-sindroom.
Rentia, wat híér teen deelnemers van 24 ander lande deelgeneem het, het omtrent die medaljes ingeryg deur een goud, drie silwer en een brons medalje in haar onderskeie items op te raap.
Rentia het eerste gekom in gewigstoot, tweede in die 200m-naelloop, driekamp en 800m stap en derde in die spiesgooi-item.
Om Rentia se deelname net nog meer besonders te maak, het sy ook ‘n nuwe Afrika-rekord in die 200m-naelloop sowel as die driekamp-item opgestel.
Uit al die deelnemende lande, het die span van Suid-Afrika algeheel tweede geëindig. Dié span het onder andere 11 nuwe Afrika-rekords opgestel en 33 medaljes – agt goud, 14 silwer en 11 brons – verower.
Na afloop van die byeenkoms, spog Rentia tans met die Afrika-rekords van die 100m- en 200m-naellope, die 800m stap, driekamp, verspring en die 10km-padwedloop.
Rentia het ook destyds tydens Karoo-lus 2016 die wêreldrekord vir Down-sindroom atlete opgestel vir die 10km-padwedloop.
Die Suid-Afrikaanse-atletiekspan het tweede geëindig tydens die onlangse vyfde Wêreld-atletiekkampioenskap vir atlete met Down-sindroom in Madeira, Portugal. Rentia hou die beker regs voor vas.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'