Gallery
GRAAFF-REINET NUUS - Terwyl die meeste van ons nog diep in droomland was, het sy kort voor sesuur Sondagoggend stoksielalleen vir haar sesde Comrades aangetree.
Maar dit was 'n anderse Comrades. Nie die een waaraan Elise Steynberg, en derduisende ander Comrades-hoopvolles, aan gewoond is nie.
Geen pistoolskoot om die hordes atlete op een van wêreldsport se grootste ekstravaganzas weg te stuur nie en boonop sonder die jillende massas om hulle vir 90 kilometer heelpad te ondersteun.
Dié een het vir Elise op Murraysburg begin. Haar alleenstryd met dié "ultimate human race," soos die Comrades wêreldwyd bekendstaan. Net sy en die soel luggie wat oor die Karoo-vlaktes streel om haar te begelei.
Photo gallery: Comrades won by Elise
'n Sieldodende 90 km tussen Murraysburg en Graaff-Reinet om dié virtuele Comrades haar sesde te maak en om weer deel te wees van die groot Comrades-familie landwyd om vanjaar se Comrades Centenary Hope Challenge met oorgawe te vier.
Vir die wegspring was vriendin Melinda Piek by in haar bakkie om die donker pad te belig en seker te maak sy hou koers. En moed, want so 'n solo-ultramaraton kan jou fisiek uitmergel en sielkundig knak.
Op 'n vraag van Graaff-Reinet Advertiser of daar 'n groot verskil is tussen dié virtuele Comrades en die ware Jakob, het Elise gesê sy het die Comrades se gees gemis. "Om dit te beleef, is iets besonders. Maar die virtuele weergawe is meer persoonlik en die lekkerste is jy het jou eie mense om jou te ondersteun. By die gewone Comrades is jy net een van derduisende wat deur hordes onbekendes aangemoedig word."
Ná 45 km het nog 'n hardloopvriendin, Marnice Pietersen, aangesluit en saamgedraf. "Ek was in daardie stadium op 'n sielkundige daling hoewel ek glad nie gedink het aan tou opgooi nie."
Elise het Graaff-Reinet net voor 17:00 Sondagmiddag binnegedraf met familie en plaaslike drawwers wat die laaste paar kilometers beurte gemaak het om haar te ondersteun.
Haar tyd 10 uur 50 sekondes.
Elise sê die ongelooflike ondersteuning van my familie, my drawwende vriendekring uit Graaff-Reinet en ook wildvreemde mense op die pad het haar gedra.
"Dié persoonlike ondersteuning onderskei die virtuele Comrades van die normale een. Maar enigeen wat al die Comrades voltooi het, sal jou kan vertel van 'n ander tipe kameradie, van iets groters en iets ongelooflik besonders. Om deel van die Comrades-familie te wees, dit kan woorde nie beskryf nie."
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'