ATLETIEKNUUS - Terwyl Tete Dijana die 2023 weergawe van die 96ste Comrades in 'n rekordtyd van 5 uur, 13 minute en 58 sekondes kafgedraf het, en Gerda Steyn as vinnigste vrou uit die stryd getree het, met 'n nuwe rekord 5:44:56, wat 'n volle tien minute vinniger was as die vorige rekord, is Cradock baie trots op drie dapper en flukse vroue wat hierdie jaar ook die Comrades klaargemaak het.
Hierdie jaar was dit 'n afroete vanaf Pietermaritzburg na Durban.
Elza Labuscagne, voltooi die afstand in 10:27:57, terwyl Olivia Moolman inklok op 10:27:58 en Girda Siebert het na 11:34:53 oor die eindstreep getrap.
Die drie het as span dié Comrades aangepak, en dit was 'n groot deel van hul saamoefen en aansporing.
Hul het besluit om met hul deelname fondse in te samel vir die Choc-program wat kinderkankerlyers behulpsaam is. Die drie was deurgaans duidelik sigbaar met hul Vrieskoei-T-hempies in spierwit met swart koeikolle.
"Dit was 'n hoogtepunt in ons lewens. 'n Onbeskryflike ervaring," vertel Olivia Moolman opgewonde na afloop van die maraton.
Cradock is onbeskryflik trots op hierdie drie vroue. Moolman en Labuscagne bring bronsmedaljes huis toe, en Siebert die Vic Clapham-medalje wat toegeken word aan deelnemers wat onder 12 uur klaarmaak, maar nie vir 'n ander medalje kwalifiseer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’