GRAAFF-REINET NUUS — Die pas afgelope Saterdag het klublede van die Graaff-Reinet Running Club aan die 41ste Bruintjieshoogte-ultramarathon te Somerset-Oos gaan deelneem.
Die roete het egter die jaar nie soos altyd van Pearston, oor Bruintjieshoogte tot in Somerset-Oos plaasgevind nie, maar wel van Somerset-Oos af tot bo-op die Bruintjieshoogte-pas en dan terug tot in die dorp.
Atlete kon in die 50km-wedloop, 25km-, 15km- of 5km-wedloop deelneem. In die 50km-wedloop het Eric Foendien van Graaff-Reinet algeheel agtste geëindig met sy tyd van 3.47:52.
Stefan Steynberg het die marathon in 'n tyd van 5.09:33 voltooi, Elise Steynberg in 'n tyd van 5.30.12. In die 25km-wedloop het Elizna Fourie (2.26:06), Carissa Marais (2.37:06), Sophia du Plessis (2.51:02), Marlize Campher (2.49:32), Lötter van Niekerk (2.40:40) en Hernus Stolz (2.30:38) die wedloop voltooi.
Plaaslike atlete Anje Gerryts en Christie Stolz het die 15km-wedloop in 'n tyd van 1.32:57 en 2.12:21 onderskeidelik voltooi.
Alhoewel dit oor die algemeen 'n goeie dag vir Graaff-Reinet se atlete was, was dit hartseer dag vir die klub: Japie Masimla, wat aan die 50km-wedloop deelgeneem het, het 4km voor die eindstreep inmekaar gesak as gevolg van 'n hartaanval wat hy tesame met 'n beroerte gekry het.
Japie is 'n aktiewe klublid en geliefd onder sy mede lede.Hy het al meer as 20 Comrades-marathonne en vele ander wedlope voltooi. Hy is 'n ware ambasadeur vir die sport.
Die klub wens graag vir Japie en sy familie alle sterkte en voorspoed toe met sy herstel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'