GRAAFF-REINET NUUS — Die Windpomp Run-halfmarathon, 10km- en 5km-wedlope wat verlede Saterdag plaasgevind het, gaan beslis weer aanstaande jaar gehou word.
Elise Steynberg, een van die organiseerders, het dit dié week aan die Advertiser bevestig.
Die gewilde wedlope, waarvan die half-marathon aan die voet van Ouberg afskop, deur die Camdeboo Nasionale Park kronkel om by die Botaniese Sportgronde in Graaff-Reinet te eindig, is vanjaar as ’n groot sukses beskryf deur organiseerders.
Die drie wedlope het altesaam 587 atlete van reg oor Suid-Afrika gelok en is deur talle as die mooiste roete in die Oos-Kaap beskryf. Die organiseerders, die Graaff-Reinet Running Club, het ook groot lof ontvang vir hul goeie organisasie en puik waterpunte.
"Ons as Klub is baie dankbaar oor die getalle wat elke jaar so mooi groei!" meen Steynberg. "Verlede jaar het daar 292 atlete deelgeneem, nou, in 2016, het daar 'n allemintige 445 atlete die 10km- en 21.1km-wedlope voltooi met nog 142 wat die 5km-pretstap voltooi het. Volgende jaar mik ons vir 700!" voer sy aan.
Die wenner van die 21.1km-wedloop was Andre Ketchem van die XCEL Running Club. Hy het die wedloop voltooi in 'n fantastiese tyd van 1.05.51 - 'n nuwe rekord vir die Windpomp Run-halfmarathon.
Kort op sy hakke was Melikhaya Kepe van die Nedbank Running Club in die tweede plek met 'n tyd van 1.09.03 en Simpthembile Swarts in die derde plek met 'n tyd 1.09.35.
Die eerste atleet van die Graaff-Reinet Running Club wat oor die wenstreep getree hetwas Sipho November met 'n tyd van 1.16.36 - hy was algeheel sesde.
Die wenner onder die dames was Siphokazi Nojoko van die Motherwell Running Club met tyd van 1.24.15 - sy het algeheel 19de geëindig. Asanda Solani van die Achilles Running Club was die tweede dame oor die wenstreep met 'n tyd van 1.29.23, met Christine Klaasen van dieselfde klub hwat as derde dame die wedloop in 'n tyd van 1.30.23 voltooi het.
Die eerste dames-atleet van Graaff-Reinet was Ilze Nel met 'n tyd van 1.36.32 - sy het algeheel 43ste geëidig.
Die wenner in die 10km-wedloop was Adriaan Gerwel van die XCEL Running Club met 'n tyd van 31.44 - óók 'n nuwe rekord vir die wedloop. Brendon Effenaar van die Nedbank Running Club het tweede geëiding met 'n tyd van 32.09 gevolg deur Kgotso Majara van die Ikhamva Running Club in die derde plek met 'n tyd van 34.11.
Die eerste atleet verbonde aan die Graaff-Reinet Running Club wat dié wedloop voltooi het, was Eric Foendien met 'n tyd van 37.29 - 'n algehele vyfde plek.
Die wenner onder die dames in die 10km, was Joan Viljoen van die Nedbank Running Club met 'n tyd van 41.18 - sy het algeheel 10de geëindig.
Die tweede dame oor die wenstreep was Kayla Moos met 'n tyd van 45.34, gevolg deur Donnae Broeksma in die derde plek met 'n tyd van 48.17.
Die eerste dame van die Graaff-Reinet Running Club wat die wedloop voltooi het, was Marijke Beukes met 'n tyd van 57.40 en 'n algehele 26ste plek.
"Ons wil die gemeenskap van Graaff-Reinet graag bedank vir hul deelname en ondersteuning. Dit beteken geweldig baie vir die Klub en dié wedloop se voortbestaan," aldus Steynberg.
Die Graaff-Reinet Running Club rig dan ook 'n spesiale woord van dank aan diegene wat waterpunte beman het, die waterpunt van die Advertiser is as die beste punt op die dag aangewys, gevolg deur die Spur se punt in die tweede plek.
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo news'