GRAAFF-REINET NUUS — Die Camdeboo en Beyers Naudé Hoërskole Atletiekbyeenkoms vind op dié Vrydag, 10 Februarie by die Collie Koeberg sportkompleks in Graaff-Reinet plaas.
Baie goeie prestasies en taai mededinging sal vir die toeskouers ‘n geleentheid bied om hierdie mooi sport te geniet.
Atlete van Asherville Sekondêr, Nqweba Sekondêr, Spandau Sekondêr, Hoër Volkskool, Union High, Aberdeen Sekondêr en enkele laerskoolatlete wat in hoërskool ouderdomsgroepe is, sal deelneem. Die byeenkoms begin om 8vm en sal ongeveer 5nm afgehandel wees.
Daar word ‘n spesiale uitnodiging aan toeskouers gerig om die byeenkoms by te woon. Die hekgelde wat betaalbaar is, is soos volg: voertuie R15, volwassenes en kinders sonder skoolklere R15, kinders met skoolklere R5 en atlete en beamptes (met toegangskaartjies wat deur die die skool uitgereik word) gratis.
Lede van die gemeenskap word uitgenooi om kosstalletjies by die byeenkoms op te rig. Kaartjies sal by die hek beskikbaar wees soos volg vir die stalletjiehouers: stalletjies wat elektrisiteit benodig - R100 en stalletjies wat nie elektrisiteit benodig nie - R50.
Navrae in verband met dié byeenkoms kan aan Theo Dörfling by Hoër Volkskool gerig word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'