GRAAFF-REINET NUUS — Rentia Oosthuizen, die 24-jarige dogter van Francois en René Oosthuizen, is onlangs opgeneem in die nasionale span vir mense met Downsindroom wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig by die Trisomy Spele in Florence, Italië.
Dié Spele is die Olimpiese Spele vir atlete met Downsindroom en vind vanaf 18 tot 22 Julie plaas. Die Oosthuizen-gesin het onlangs na Graaff -Reinet verhuis vanaf Middelburg waar almal reeds bewus was van Rentia se besonderse talente. Francois is werksaam by die Veediefstal-eenheid van die SAPD en René by Octofi n. Die meegaande foto van Rentia is geneem tydens die 2015 Wêreld Atletiekbyeenkoms in Bloemfontein waar sy ‘n rits medaljes ingeryg het.
Rentia is tans die Afrika-rekordhouer vir die 800m stap en verspring en staan sy tweede op die wêreldranglys vir gewigstoot, tweede ook in verspring en derde in die driekamp. Voor Rentia haarself tot atletiek gewend het, het sy ook in swem presteer, en het sy onder andere Suid-Afrika verteenwoordig in 2014 in Meksiko tydens die sewende Wêreld Swemkampioenskap, waar haar aflosspan ‘n brons medalje verower het.
Sy was hier ook aangewys as een van die top 8 swemmers in die wêreld in die 50m borsslag waar sy vyfde geëindig het, die 100m borslag waar sy ook vyfde geëindig het, sowel as die 200m borsslag waar sy sesde geëindig het. Sy vertrek op 11 Julie na Johannesburg vir ‘n finale oefenkamp voor haar span op 14 Julie na Italië vertrek. Rentia sal haar land verteenwoordig in die 100m naelloop, 200m naelloop, verspring, gewigstoot, driekamp, 800m stap en
is sy ook deel van die aflosspan wat in die 4X400m en 4X100m gaan deelneem.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'