SUID-KAAP NUUS - Die wêreld se vinnigste vroue-meesteratleet in die kategorie 70 plus, Toy Ungerer van Oudtshoorn het haar atletiekgoud se waarde vermeerder.
Ungerer het Saterdagoggend, 5 November kort voor 09:00 die finale van die 400 m by die wêreldmeestersatletiekkampioenskappe in Perth, Australië gewen. Terselfdertyd het sy die 400 m-wêreldrekord vir vroue 70 plus vir die tweede keer in een week by die spele verbeter.
In die uitdunne het sy Woensdag 2 November die rekord van 75.81 sekondes verbeter na 75.38 sekondes. Saterdag het sy die baanitem in 'n sub-74 sekondes-wêreldrekordtyd gewen toe sy in 'n tyd van 73.97 eerste oor die wenstreep gehardloop het.
Haar 400 m-droom is by dié Spele voorafgegaan met 'n goue wen in die 100 m vir vroue in 'n tyd van 15:26. Met dié wen het sy haar eie SA rekord vir die sesde keer in ses maande verbeter.
In die 200 m vir vroue 70 plus het Ungerer ook voor gehardloop, maar spoed verminder net voor die wenstreep. So het Brittanje se Brende Fee haar van 'n wen 'beroof' toe Fee met 'n 21ste van 'n sekonde vinniger as Ungerer klaargemaak het. Fee het in met 'n tyd van 32 sekondes gewen. Ungerer het in 32:21 oor die eindstreep genael.
Minder as drie ure na haar prestasie in die 400 m, het Ungerer aan die Oudtshoorn Courant gesê: "Toe ek opwarm skryf ek op die grond - 74.
Voor die wedren het ek vir Nico (haar man) gesê - 74 - en nie gedink ek gaan dit sub 74 doen nie. Toe ek die elektroniese meter op 200 m verbygaan en ek sien 30.97, toe weet ek vandag is my dag."
Met die nuwe wêreldrekord agter haar naam het Ungerer ook nuwe doelwitte vir haarself gestel in haar atletiekloopbaan.
Sy vertel: "Die einde die jaar is dit 12 jaar wat ek weer begin het met atletiek, nadat ek 42 jaar opgehou het. Ek het gesê ek gaan net solank hardloop soos my skooljare (12), dan hou ek op.
"Nou het ek weer nuwe doelwitte vir myself gestel. So - My man sal nog geduldig moet wees met my."
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Karoo, Hessequa, Tuinroete nuus'