OPINIE - Stefan Botha, 'n inwoner van George skryf oor sy eie pad met dobbelverslawing en vra waarom Suid-Afrika steeds dobbelary en sportweddery so wyd adverteer, terwyl dit miljoene mense in wanhoop en armoede dompel.
Vir besigheid en vir plesier moes ek die afgelope paar weke twee keer die vlug vanaf George na Johannesburg neem.
Wat vir my opvallend was tydens al twee my besoeke aan OR Tambo (een van my vriende noem dit nou sommer die Hollywood Bets International Airport) is die geel en pers aanlyndobbel-advertensieborde waarop twee wêreldbekende Springbokke lewensgroot pronk. Jy kan dit nie miskyk nie!
Soos wat ek by die lughawe instap, deur die lang gange loop, en weer, by die boarding gate, kyk die een Springbok vir my en wys hy met sy wysvinger in my rigting. Langs hom staan daar geskryf “400 millionaires' tickets paid out in 2024. You could be next”.
Met dankbaarheid dink ek dadelik by myself, “Jy gaan nie volgende wees nie! Jy gaan nie ryk word nie! En indien jy dalk wen, gaan jy weer alles verloor.”
Ek het dit op die harde manier geleer, met die tipe dobbel wat al meer gewild raak. Sportweddery. Dit is só maklik! Jy het onmiddellike toegang op jou slimfoon, in die palm van jou hand, enige plek in die wêreld. Jy hoef nie eers meer na jou naaste casino of na Bophuthatswana toe te ry nie.
Dís nou een enkele ding wat goed was van die vorige bedeling. Dobbel was gereguleer en onwettig in meeste dele van ons land. Jy moes moeite doen en vêr reis om geld te gaan verloor.
Soos wat ek dink hoe dankbaar en geseënd ek is dat ek uit die kloue van dobbelverslawing kon ontsnap, hardloop my gedagtes verder. Dit is eintlik ’n skande vir nasionale sporthelde om so ’n euwel te bemark en te bevorder en hulle gesigte daaraan te heg.
Want die advertensies werk, mense doen dit, aanhoudend, en baie hou nooit op nie en neem uiteindelik hul eie lewens.
Ek was gelukkig om uit te kom. Net daar verloor ek ’n groot mate van respek vir sportsterre wat dobbel aanmoedig en net omgee oor die vet tjek vanaf die dobbelmaatskappy. Sonder om in ag te neem hoe dít wat hulle bemark die kwesbaarste mense in ons samelewing affekteer. Dis nou ’n drastiese metafoor, maar dit laat my eintlik dink aan hoe ’n dwelmhandelaar operate.
Dit laat my ook dink aan die keer toe Cristiano Ronaldo tydens ’n perskonferensie van ’n groot toernooi twee botteltjies Coca-Cola (een van die toernooi se hoofborge) van die tafel voor hom verwyder het en gesê het dat hy slegs water drink. Dáárvoor het ek respek!
Gevolglik het die gebaar sommer gelei tot ’n drastiese val in die markwaarde van die handelsmerk. Dit wys jou net watter invloed sportsterre en die standpunt wat hulle inneem kan hê.
Tydens my paar maande in die VSA was dit vir my interessant om uit te vind dat sportweddery nog heeltemal onwettig in 11 Amerikaanse state is.
Een van hulle is Texas. Ek weet want ek het dit probeer doen op my foon toe ek daar was en kon nie by die toepassing inkom nie. Ek moes ’n VPN gebruik om ’n ietsie op ’n wedstryd te sit. Dís hoe verslaaf ek was. ’n Verslawing wat al my spaargeld geleidelik opgevreet het en my op ’n jong ouderdom ’n paar grys hare gegee het. Dit kan ook dalk net gene wees, maar dit het beslis my bloeddruk opgejaag en ’n paar jaar van my lewensverwagting afgetrek.
Tog, hier in Suid-Afrika is dit oral wettig en word dit nog boonop oral geadverteer. Op die radio, billboards, die televisie, atlete se spandrag, én as die voorvoegsel van geboue en gebeurtenisse. En dit is só maklik bekombaar! Net soos pornografie.
In die ou dae moes jy skelm na ’n adult shop toe gaan, ’n tydskrif of ’n DVD gaan koop en hom onder jou bed wegsteek. Deesdae kan enige iemand van enige ouderdom dit op hulle slimfone kry en daar is letterlik miljoene webtuistes om van te kies.
Dieselfde met damprook. Dit is blykbaar ’n gesonder alternatief vir sigarette en help sigaretrokers om op te hou. Maar ek dink inteendeel dit maak die verslawing aan rook en nikotien net soveel erger. Baie van die vapes bevat ’n hoër persentasie nikotien per trek as ’n sigaret en deesdae sien jy elke tweede persoon met ’n elektroniese kankerstokkie in hul hand. Hoekom?
Dalk is dit erger vir ons liggame as wat sigarette is. Ons weet nog nie. Wat ons wel weet is dat dit baie geriefliker en makliker is as om ’n sigaret aan te steek. Dis nie meer moeite nie en jy hoef nie eers meer buite te gaan staan vir ’n smoke break nie.
Werknemers doen dit deesdae sommer binne in die kantoor en tydens vergaderings. Jou vape is 24/7 op jou lyf of op jou bedkassie. Dit is die laaste ding wat jy doen voordat jy gaan slaap en die eerste ding wat jy doen wanneer jy soggens wakker word. Net soos wat jy jou oë oopmaak, besoedel jy jou longe en jaag jy jou hartklop op. Eerder as om ’n draai te gaan loop en vars suurstof in te asem.
Want dit ruik ook lekker en stink nie soos sigarette nie. Dit word dus maar as aanvaarbaar beskou rondom kinders en mense wat nie rook nie. Totdat hulle in die versoeking gelei word en dit ook begin doen want dis mos nie so erg nie. En dis waarom jy deesdae meer vapes in skole sal kry as in ’n kroeg.
Maar pornografie en damprook/vape (wat ook al jy dit wil noem) nou daar gelaat. Want vandag se gesprek gaan oor dobbel en die toenemende advertering daarvan.
Die groot verskil tussen dobbel en die ander twee euwels is dat pornografie en e-sigarette nie oral geadverteer word nie. Dit word immers nêrens geadverteer nie. Want dit mag nie geadverteer word nie.
Die advertering daarvan in ons land is onwettig. Dit word dus ook nie aangemoedig deur die media, die publiek en publieke figure nie. Want dis VERKEERD! Dit besoedel jou brein, jou gees, jou longe en jou hart. Maar dobbel is ook verkeerd en kan jou lewe baie meer ruïneer as laasgenoemde twee slegte gewoontes/verslawings.
Hoekom word dobbel dan so wydverspreid geadverteer? Hoekom is daar nie strenger wette in plek om die advertering en praktyk van dobbelary te beperk nie? Dit gaan my verstand te bowe.
Die punt is, verslawings word al hoe makliker bekombaar en moderne tegnologie maak dit al meer toeganklik. En die media, alle vorms daarvan, druk dobbelary in ons keel af. Die fenomeen van sportweddery en dat dit nou op jou slimfoon deur die click van enkele knoppies gedoen kan word het dié euwel van dobbel soos ’n wegholveldbrand in ons samelewing verder laat versprei en sy greep op meer mense as ooit van tevore. Die aantal dobbeladvertensies wat jy daagliks sien is net ’n bewys daarvan.
Lotto Star borg Boer soek ’n vrou en Wie word ’n miljoenêr op KykNET. Die SA20 is nou die Betway SA20. Die Sun Arena by Menlyn Maine in Pretoria is nou die Sunbet arena. Die Sharks se tuisveld staan nou bekend as Hollywoodbets Kings Park. En World Sports Betting se logo sit op die agterkant van die Blou Bulle se broekies.
Hoekom dink julle het díe dobbelmaatskappye só baie geld om sulke bekende en gewilde programme, sportgeleenthede, spanne en geboue te borg? Hier en daar wen spelers weinig, maar die oorgrootte meerderheid verloor baie, en uiteindelik alles en só raak die maatskappye net ál ryker, borg al meer, adverteer al meer en die samelewing raak al hoe armer.
Ek het iewers gelees dat Suid-Afrikaners gesamentlik R4,23 miljard op Dricus du Plessis geplaas het om sy onlangse geveg te wen. Hy het toe egter verloor en dit was ’n depressiewe Sondag vir almal wat ’n aandeel in daardie verlies gehad het.
En die bookies lag al die pad bank toe. Dís hoekom hulle lughawens, arenas, sportspanne en televisieprogramme kan borg en oral kan adverteer. En dís hoekom ons land se ekonomie so agteruit boer.
Iewers, by ’n ongedissiplineerde brein, steek daardie advertensie vas en neem hulle die gateway drug om ’n ietsie klein op hul gunsteling span te sit. Dit begin altyd onskuldig en beskeie. Soos om R100 op Dricus te sit. Of om ’n los R50 op te sit dat Argentinië teen die All Blacks gaan wen.
Dan gebeur dit en jy kry R300 terug. Maar dan dink jy agterna, wat as ek R500 opgesit het? Dan het ek nou R3 000 terug ontvang. Of selfs R1 000 opgesit het, dan sou ek nou R5 000 ryker gewees het. Maar dit werk nie so nie.
Gierigheid is ’n lelike ding. Jy kan op ’n lang winning streak wees, en dan kan jy in een oomblik weer alles verloor. Dan begin jy weer onder en oorreed jouself dat jy daardie verlies weer kan terugwen.
Só begin jy roekeloos raak en word die verlies al groter. Totdat dit jou af aarde toe bring, jou verneder en jou laat besef dat eerlike harde werk die enigste resep is vir rykdom en sukses. Ongelukkig is daar sommige wat dit nooit besef nie en nooit uit daardie gat kan uitklim nie.
Dobbel maak die armes in ons land al armer. Dit teiken desperate mense en laat hulle hul laaste bietjie geld verloor. Dit lei tot depressie, gebroke verhoudings en selfdood. Tog word dit letterlik ORAL geadverteer.
As ek vir een beleid kan stem in die volgende verkiesing dan sal ek kies om enige vorm van aanlyndobbel totaal onwettig te verklaar.
Die Indiese regering het in Augustus vanjaar ’n wet aangeneem wat ’n algehele verbod op die advertering van aanlyn geldspeletjies en sportweddery ingestel het, ongeag of dit op vaardigheid of kans gebaseer is. Ek dink ons regering kan gerus Indië se voorbeeld volg.
Ek daag elke politikus, predikant, sportster, publieke instansie en mediahuis uit om hul rug op die dobbelinstansies te draai en hierdie euwel sterk te veroordeel. Ek daag ook elke ongedissiplineerde, kwesbare en desperate persoon uit om nie vir die oorvloed van advertensies te val nie.
Om weer sport te kyk vir die vermaakaspek daarvan, nie vir die geld wat jy gaan maak of gaan verloor en die gepaardgaande stres nie. Om depressie en aggressie te vermy en om aan te hou glo in eerlike harde werk, altyd!
Stefan Botha
Comment and opinion are that of the author and not necessarily shared by Group Editors, any of its publications or staff members.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’