ABERDEEN NUUS - Aberdeen se Johnnika Arries is verlede Woensdag, 10 Julie, ingesweer as die DA se nuwe proporsionele raadslid vir wyk 7 van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se raad.
Sy vervang wyle Garry Wiehahn, wat sedert die plaaslike verkiesing in November 2021 tot en met sy dood in April hierdie jaar, as raadslid vir die wyk gedien het.
Arries is 'n boorling van Graaff-Reinet, maar woon sedert 2012 in Aberdeen. Sy is van mening dat sy die mees geskikte persoon vir hierdie belangrike posisie is, omdat sy baie daarvan hou om mense, veral minderbevoorregtes, te help.
"Ek het 'n passie vir gemeenskapswerk en daarom maak ek myself betrokke by baie sosiale forums," sê Arries.
"My betrokkenheid by die Camdeboo-jeugforum, Aberdeen se komitee vir werkloses, Luxolo Intermediêre Skool se beheerliggaam en die munisipale wykskomitee het my net meer gemotiveer om die gemeenskap te bedien. Dit is al wat ek nou voor my sien - om die gemeenskap van wyk 7 te dien soos nooit tevore."
Benewens haar nuwe rol as raadslid, is Arries ook die DA se ondervoorsitter vir wyk 1 en die streek se DA-jeugvoorsitter. Wyk 1 sluit Lotusville en Thembalesizwe in Aberdeen in. Wyk 7 sluit Aberdeen (dorp), Koebergville, Graaff-Reinet en Adendorp in.
"Met al die ondersteuning wat ek van my mede DA-lede in wyk 1 en wyk 7, asook die DA-koukus in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit ontvang, voel ek reeds gemaklik in my nuwe posisie," sê Arries.
"Ek sal binnekort van huis tot huis gaan om myself aan die inwoners van wyk 7 bekend te stel en te hoor hoe ek kan help. Kontak my gerus by 063 985 0101 of arriesjohnnika6@gmail.com.
Johnnika Arries is verlede Woensdag ingesweer as die DA se nuwe raadslid vir wyk 7.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’