NATIONAL NEWS - ‘n Belowende eerstespan rugbyspeler van Hoër Volkskool Potchefstroom (Volkies), Jauvan Prinsloo (17), se rugbyloopbaan is kortgeknip nadat hy drie nekwerwels in ‘n rugbwedstryd teen Hoërskool Centurion gebreek het.
Jauvan se ernstige besering het na 13 minute in die wedstryd hierdie afgelope Saterdag, 6 Augustus op Volkies se rugbyveld gebeur.
Buiten die drie nekwerwels wat gebreek het, het een ook geskuif.
Hy is tans in die Tshepong Staatshospitaal in Klerksdorp waar ‘n operasie op Dinsdag, 9 Augustus, sou plaasvind.
Die omstandighede rondom Jauvan se besering en die kostes betrokke rakende die operasie en rehabillitering is Maandag op sosiale media gedeel.
Sy pa, Rudi Snyder, noem dat Jauvan tans nog baie seer het, en dat die rehabilitasieproses na die komende operasie veral lank gaan wees. Hy het ook bevestig dat sy seun se rugbyloopbaan verby is.
“Hy is ‘n sterk seun en ons weet hy gaan weer herstel. Dit is ‘n feit dat hy nie meer gaan rugby kan speel nie. Hy was ‘n briljante senter. Sy ouer boetie, Dean, is ook die losskakel in die eerste span en dit was vir ons as gesin regtig spesiaal dat hulle saam gespeel het. Die besering raak veral vir Dean erg,” noem Rudi.
Rudi is wel verheug oor die bydrae wat die gemeenskap al sover gemaak het.
“Ons is bly oor enige bydrae. Die pad na herstel is nog lank en ons waardeer al die hulp wat ons ontvang. Iemand het alreeds genoem dat my petrolkostes om van Parys na Klerksdorp te ry gedek sal word. Sulke hulp is ongelooflik,” noem Rudi.