NASIONALE NUUS - Die Klein Karoo spog met ‘n splinternuwe trekpleister vir toeriste en nuuskierige inwoners wat nog nooit met ‘n mega-"foefie slide" teen ‘n berghang af geswiep het nie.
Cango Caves Estate is besig met die finale afronding aan ‘n unieke dubbele zipline oor twee lengtes van onderskeidelik 180 m en 500 m.
“Ons is altyd op soek na nuwe maniere om toeriste te lok, nie net vir ons eie gewin nie, maar ook tot voordeel van toerisme in Oudtshoorn en die Klein Karoo,” sê Jean Botha, mede-eienaar van Cango Caves Estate.
Die zipline se boonste vertrekpunt is langs die Kango Grotte se parkeerterrein geleë. Van hier af swiep die dubbele staalkabels 180m ver oor ‘n vallei met tipiese Karooveld. Van die landingsplek af stap ‘n mens sowat 30m om die koppie tot by die volgende punt vanwaar nog twee kabels jou 500 m teen die helling af swiep tot by Cango Caves Estate se restaurant.
Die Cango Caves Zipline word op 1 September in gebruik geneem.