GRAAFF-REINET NUUS - Pragtonele met sneeubedekte bergtoppe tussen Graaff-Reinet en Middelburg verwelkom gister, 22 Mei, die eerste besoekers en die uitstallers by die jaarlikse Stoep Tasting in Graaff-Reinet.
Stoepe het oornag in kuierplekke verander, en oud en jonk sal van Donderdag tot Sondag deur die ikoniese strate kan dwaal, die geskiedenis en die erfenis van die juweel van die Karoo kan beleef, en waar dit hier en daar te vroeg is om wyn te proe, word daar solank heerlike stoomwarm, geurige koffie bedien, terwyl vlaggies wapper en advertensievaandels in die winterluggie bibber.
Lekker warm baadjies is 'n moet as die Lootsberg onder 'n sneeukombersie slaap, en hoewel die dae lekker sonnig is, trek daar altyd 'n koel luggie - snags is 'n snoesige bed 'n voorvereiste.
Terwyl feesgangers maar broos was in die koue oggendluggie, het Karoo Wine Club die versekering gegee dat elke kaartjiehouer met ope arms en genoeg wyn verwelkom sal word.
Vanaand gaan al die wynmakers heerlik saamkuier by 'n gesellige aandete. Daar sal beslis ook lekker stories uitbroei!
Die Graaff-Reinet Advertiser woon die fees by en vars nuus vanuit die kuierhoekies sal gereeld met lesers gedeel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’