MOTOR NUUS - Die afname onder nuwe voertuigverkope wat die afgelope aantal maande merkbaar geword het, duur voort met 1 854 minder voertuie wat in Februarie van die hand gesit is.
Die totaal van 46 347 is 3,8% minder as in die ooreenstemmende maand verlede jaar.
Nogtans het passasiersvoertuie steeds redelik goed verkoop en was die totaal van 31 200 eenhede slegs 0,4% ofte wel 123 eenhede minder as in Februarie 2017.
Die grootste terugslag is ervaar in die ligte handelsvoertuigsektor waar verkope 1 410 eenhede minder was (13 212) as in 2017. Dit kom neer op markinkrimping van 9,6%.
Daar was verskeie verrassings onder die toptien-presteerders waar Toyota weer bobaas was met 10 624 verkope – met 'n reuse-bydrae deur Hilux wat nou al oudergewoonte die algehele topverkoper was met 3 369 eenhede.
Ander Toyota-presteerders was Corolla, Auris en Quest op 1 302 en Fortuner met 1 007 eenhede wat nuwe tuistes gevind het. Die groep se luukse motor, Lexus, sal egter werk moet maak van 'n beskeie 73 totaal wat maar sleg afsteek teen Jaguar se 118 verkope.
Soos altyd is Volkswagen (7 519) in 'n stewige tweede plek danksy 'n goeie verbetering van nagenoeg 500 eenhede op die Januarie-verkope. Die indruk bestaan dat Volkswagen altyd die topverkoper passasiersvoertuig sal wees, en hier is die Polo (2 847) geen uitsondering nie.
Die nuwe Vivo, wat onlangs opgedollie is, is kort op sy hakke met 2 044 verkope.
Die groep se Audi-divisie het self taamlik goed gevaar met 898 verkope – gerugsteun deur die A3 se uitstekende 250 eenhede.
Dis egter nie alles maanskyn en rose vir Volkswagen nie, want Amarok (162) sak al verder terug. Selfs Mahindra Scorpio Pik Up (214) doen beter – om nie eers te praat van GWM Steed (178) nie!
Die derde lid van die Groot Drie, Ford. (5 654) het puik presteer met 'n verbetering van nagenoeg 500 verkope teenoor Januarie vanjaar.
Ford se presteerders, oudergewoonte, was Ranger (2 253), EcoSport (814), Figo (7750 en Fiesta met 572 verkope. Die gesogte Mustang (59) vaar steeds goed, maar daar is ook mense wat steeds 'n Kuga (94) sal aanskaf.
Stadig maar seker handhaaf Nissan (4 779) sy vierde plek danksy NP200 op 1 690 verkope, en NP300 op 886. Navara, daarenteen, sukkel voort met 'n beskeie totaal van 129 – selfs swakker as Volkswagen se Amarok.
Die vyfde plek behoort aan Hyundai met 3 197 verkope – danksy Grand i10 (1 008), gevolg deur Tucson op 450 eenhede, i20 op 493 en Creta met 443 verkope.
Mercedes-Benz, wat nie individuele verkope bekend maak nie, het danksy 2 111 verkope van agtste tot sesde plek opgeskuif, terwyl Renault (1 759) die sewende plek beklee omdat Kwid (582), Clio IV (482), en Captur (233) goed presteer het.
Nuweling Isuzu (1 512) het werklik goed gevaar en twee plekke opgeskuif tot in die agtste posisie – hoofsaaklik vanweë sy betroubare KB-modelle. Dis net 'n kortkop voor KIA (1 508) wat danksy Picanto (686), Rio (438) en Sportage (202) voortdurend presteer.
Die laaste plek onder die toptien gaan na 'n ietwat sukkelende BMW (1 361) wat 500 eenhede minder is as in Januarie vanjaar verkoop het.
BMW het intussen tot inkeer gekom en vermeld nou weer individuele verkope. Hierdeur kan ons sien dat die 3-Reeks (506) weer die manne van München se topverkoper is.
Intussen is daar twee Japanse invoerders – Mazda (1 256) en Suzuki (1 179) wat in die Germaanse nek blaas. Februarie was dan ook die eerste maand dat Suzuki die duisend-kerf oorgesteek het.
Ander vervaardigers buite die toptien sluit in: Porsche (91), gevolg deur luukse handelsmerke soos Maserati (12), Ferrari (11) en Bentley (5). Jaguar/Land Rover kan heel tevrede voel met sy 511 verkope waarvan die Jaguar-handelsnaam Toyota se Lexus uitgestof het.
Daar word verwag dat regeringsbesluite soos verhoogde BTW, 'n woeste brandstofheffing, 'n hoër ad valorum-heffing op motors duurder as R900 000 en 'n verhoging in uitlaatgasbelasting die mark kan benadeel – wat egter weer kan regkom danksy 'n beter groeikoers en verhoogde sakevertroue.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'