Motor Nuus -Reëlings kom nou vinnig tot 'n punt vir die langverwagte George-oumotorskou moontlik gemaak deur ScribBenzeum, wat op 12 en 13 Februarie by Eden Tegniese Hoërskool (voorheen PW Botha-kollege) plaasvind.
Vanjaar se geleentheid is ekstra spesiaal aangesien die oumotorskou sy 25ste herdenking vier. Hierdie silwerjubileum dien dus as skoutema vir 2022.
Verlede jaar se byeenkoms is gekanselleer toe Covid-19-inperkings ‘n stokkie gesteek het voor oumotorliefhebbers se bywoning van hierdie belangrike item op die Suid-Kaap se sosiale kalender.
Die voorsitter, Alewijn Dippenaar, verduidelik: "Ons maak werk daarvan om die veiligheid van alle deelnemers en besoekers te verseker, sodat almal die geleentheid kan geniet in die gesondste omstandighede."
Hierdie doelwit behels onder andere 'n groter gebied om die geleentheid se vele uitstallings en besienswaardighede te akkommodeer. Sodoende is almal in staat om binne die raamwerk van heilsame sosiale afstande te verkeer, terwyl ou en nuwe enjins bekyk of stalletjies ondersteun word.
Besoekers word verder gevra om hul motors by die nabygeleë Carpe Diem Skool te parkeer, aangesien geen openbare parkering by die Eden HTS-terrein toegelaat sal word nie.
Lede van die Suid-Kaap-oumotorklub was tydens die afgelope kwarteeu die dryfkrag wat die skou aangevuur het. Die eerste geleentheid is in 1997 op die plaas Blackwood naby Victoriabaai met 80 deelnemende motors gehou. Kosstalletjies is deur die plaaslike Lionsklub verskaf.
George-perdryklub was gasheer vir die 1998-byeenkoms, toe 250 motors en trekkers uitgestal is vir besoekers om te bewonder. Motorhandelaars is genooi om hul nuutste modelle bekend te stel en verskeie uitstallings - van hondevertonings tot gimnastiek, perd- en motorparades - het klubs van alle oorde toegelaat om met hul motors te spog en skougangers terselfdertyd te vermaak.
Stalletjies met kuns en kos, modelmotors en 'n besonder goedtoegeruste biertuin het soveel besoekers gelok dat dié skouterrein rondom die eeuwisseling uit sy nate gebars het.
Die huidige Yorkstraat-tuiste het die reëlingskomitee soos ‘n handskoen gepas vandat die vierde oumotorskou hier aangebied is, met genoeg ruimte vir deelnemende motors, trekkers en motorfietse.
Teen die agtste byeenkoms in Februarie 2004 is dit as die tweede grootste motorskou in Suid-Afrika geag.
Registreer vir vanjaar se George-oumotorskou deur die skakel by www.scocc.co.za te volg of bel Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 vir bykomende inligting.
Volg die aksie op Facebook en koop kaartjies by Computicket.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'