HOFMEYR NUUS - Elf Hofmeyr-inwoners het verlede week hul ou motors uit hul stoorplekke gehaal, afgestof, gekyk of alles nog werk en dit vol brandstof gegooi gereed vir hul jaarlikse Ou Karre Toer.
Vanjaar is daar besluit dat die rit van die "Victoria-boetiekhotel na die Victoria-boetiekhotel” sal heet. Die roete deur die R390 en R337 is deur Johan Vermaak beplan.
Teen normale spoed duur dit ongeveer vyf en 'n half uur, maar vir die 1974 Peugeot, die 1981 Isuzu, die 2004 Ford, 'n Toyota "met ondervinding" en 'n Peugeot-bakkie met deursettingsvermoë, André Opperman se geel Isuzu, Simon Jansen se 1978 F250 dubbelkajuit en die heelwat jonger Mahindra THAR van Oreste Boffa, het dit effens langer gevat.
Niemand was immers haastig nie.
Die span het teen 09:30 by die Victoria-boetiekhotel in Hofmeyr weggespring nadat Groenkrag-boerdery 'n stewige ontbyt daar geborg het. Die volgende stop was buite Cradock op die Mortimerpad by die Buffelshoek-wildsplaas waar die manne net weer 'n slag bymekaargekom het.
Die mans het die Michael Vermaak-boerdery naby Klipfontein besoek en daar vir 'n paar uur tussen indrukwekkende implemente en masjinerie gekuier. Die pad het 'n paar van hulle met ‘n draai tot daar gebring, want die oppervlak was nie geskik vir gebruik deur al die voertuie nie.
'n Gesellige roete tot by hul oornagplek, The Duke of Bedford Inn, en 'n kuieraand by The Mill Cricket Club, waar ou vriende by die groep aangesluit het, het 'n paar uur geduur.
Vandaar het die groep na Bedford gereis en talle besienswaardighede besoek.
Toe het Adelaide aan die beurt gekom. Soms het 'n paar meganiese probleme opgeduik, maar niks wat die manne nie tussen hulle kon uitsorteer nie.
Die res van die roete het verby Bottelgat, Ruitjies en die Katberg-afrit na Tarkastad gestrek.
Die span het teruggekeer na Hofmeyr en teen 15:00 kon almal aansit vir 'n keurige middagete by Hofmeyr se eie Victoria-boetiekhotel.
Kort ná die ete is 'n video van die toer aan belangstellendes versprei wat ook as 'n lusmaker kan dien vir volgende jaar se Ou Karre Toer."
Foto: Teresa Opperman
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'