MOTORNUUS - As 'n man se baas nee sê vir 'n Saab, maak jy 'n plan. En sentiment en mooi herinneringe kan 'n man noop om selfs sy vrou se argwaan te trotseer vir 'n spesiale ryding.
Vandag lag Vos Vorster en sy vrou Amanda van Jongensfontein oor die amperse huismoles wat hulle 1958 Saab 93B veroorsaak het.
Die motor, wat blink en trots in hul oprit staan, het darem mettertyd 'n gunsteling by die hele familie tot by die kleinkinders geword, maar 'n paar jaar gelede was dit 'n ander storie.
Die Saab is in 1958 op Kroonstad splinternuut deur Vos se Duitse onderwyser se skoonpa aangeskaf.
In 1972 het die onderwyser, Koos Oosthuizen, die motor oorgeneem. Vorster het kontak met sy oudonderwyser behou en toe hulle in 2010 weer by Oosthuizen besoek aflê, het hy gesien die Saab gaan agteruit. Oosthuizen was reeds bejaard en het beplan om die motor van die hand te sit, want hy kon dit nie meer in stand hou nie.
1958 Saab 93B
Toe Vos aankondig hy gaan die motor koop, was dit tot vroulief se groot konsternasie. Sy het gereken daar is klaar te veel voertuie op die werf. Soos dit enige wyse man betaam, as Baas haar voet neersit, het Vos die gevaartekens gelees en bes gegee.
Die swierige stuurkajuit is blink en netjies.
Maar terug by die huis het hy sy seun gestuur om die voertuig te koop en die Saab by die familiebesigheid te stoor.
Twee jaar later, toe Amanda reeds van die Saab vergeet het, het hulle seun die motor aan Vos geskenk en is dit na die Vorsters se nuwe tuiste in Jongensfontein, en só kry die storie toe 'n gelukkige einde.
Saab loop seepglad
Die 750cc driesilinder tweeslagenjin vat sonder 'n hik of 'n hoes. Al die onderdele is oorspronklik en geen modernisering is binne of buite gedoen nie. Hy vertel dat sekere onderdele nie meer verkrygbaar is nie, maar as afgetrede elektro-meganikus, vervaardig hy self wat hy nodig het. Daar is net een stel punte, anders as die bekende DKW enjins van jare gelede. Die olie-petrol verhouding is 33:1. Met net drie ratte en 'n topspoed van ongeveer 120 km per uur, is dit nie 'n motor vir toer nie. Tog het die Vorsters vroeër vanjaar Victoria-Wes toe gery vir 'n motorskou, maar dit moes maar rustig gedoen word. Die werkverrigting is nie baie ekonomies nie as gevolg van die enjin se uitleg wat die lugvloei belemmer. Volgens Vos lewer die motor gewoonlik so tussen 9 en 10 km per liter.
Vroulief Amanda Vos, aka Baas, is deesdae ook 'n Saab-aanhanger.
Tot dusver was nuwe bande vir die Saab een van die grootste uitgawes. Die bandgrootte word nie meer in Suid-Afrika vervaardig nie. 'n Nuwe stel kon slegs in Nederland opgespoor word.
Die oorspronklike groen wielvellings.
Vos glo dat ou motors nie gemoderniseer moet word nie. Jy moet seker maak jou aankoop is in so 'n toestand dat dit met gereelde onderhoud aan die gang sal bly. Daar moet ten minste twee maal per maand met so 'n ou voertuig gery word. Hy benadruk dat roes onmiddellik aandag moet kry en dat die bekleedsel vir jare mooi bly as jy die motor uit die son hou.
En so leef die gelukkige driemanskap in vrede saam: Saab, Baas en Klaas.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'