MOTOR NUUS - Die sewende Erfenistoer, wat vanjaar die blommeparadys van Namakwaland besoek het, was in een woord fantasties.
Die 51 deelnemers in 27 voertuie, wat almal tussen 1815 en 1975 vervaardig is, het op 21 September by Matroosberg 4x4 buite Ceres bymekaar gekom.
Op 22 September het hulle oor Malmesbury, Darling en Yzerfontein na Velddrif vertrek, waar hulle oornag het.
Op 23 September is hulle oor Piketberg en Leipoldtville na Lambertsbaai om daar te oornag. Op 24 September is hulle oor Clanwilliam, Citrusdal en Porterville terug na Ceres, waar hulle weer by Matroosberg 4x4 oorgebly het. Hulle het op 25 September huiswaarts gekeer. "Almal is veilig tuis na 'n heerlike toer," sê Pierre Olivier, voorsitter van die reëlingskomitee.
"Vrydag- en Saterdagoggend was bitter koud, want die vorige week het dit in die Matroosberg gereën en selfs gesneeu," sê Phillip Rosser, wat gehelp het om die roete te beplan. Veral die toerlede in die oop Ford Model T's, die oudste voertuie wat aan die toer deelgeneem het, het gebibber.
"Die reën het die toegangspad na die reservaat ietwat verspoel, maar die mooi omgewing en lekker blyplek het opgemaak vir die ongerief," sê Japie van Rooyen, een van die stigterslede en voorsitter van die Suid-Kaap Oumotorklub. Tydens die res van die toer was die dae lekker warm en die skilderagtige dorpies waar hulle deurgery, aangedoen of oornag het, het die toer 'n besondere belewenis gemaak.
"Dit was 'n fantastiese toer," sê Olivier.
"Alles het voor die wind gegaan en daar was geen probleme met die voertuie wat ons nie sommer langs die pad kon regmaak nie."
Die 2018 Erfenistoer is moontlik gemaak deur Montego Pet Nutrition, wat ook onderneem het om die volgende twee toere te ondersteun.
Montego se hoofkantoor is op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap, wat as basis vir dagtoere kan dien indien die Erfenistoer volgende jaar daar gaan draai.
Ander instansies en ondernemings wat bygedra het, sluit in die Suid-Kaap Oumotorklub, Coastal Customs, Safari, Adley House, JP Spares, Supa Quick, Mesco Engineering Supplies, Midas, Palm Tyre, TransForm Electrical, MVZ Accountants, Daan Botha Boerdery, Game Car Wash George, Jannie Stander Boerdery, Clickonit, Team Hyperformance, Perfect Water en Gerhard Barnard Boerdery.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'