OOSKAAP-NUUS - Koue reënweer laat bergstroompies uit die Bamboesberge helder afloop en die water kabbel ysig oor bevrore klippe!
Tot 50 mm se reën is Maandag en Dinsdag, 9 en 10 Junie, oor die Bamboesberge, noordoos van Hofmeyr, gemeet. Ligte sneeu het geval, maar tog in die water gesmelt.
Inwoners van Graaff-Reinet het ook blitsvinnig hul pofbaadjies, jasse en warm onderklere uitgehaal, en dis tans geen skande om onder ’n kniekombersie in die kantoor te sit nie.
Koud en nat moet immers gelyktydig hanteer word.
Ysige sneeuweer het oor Aliwal-Noord, Steynsburg, Rouxville, Dordrecht en Barkly-Oos uitgesak en die hoogliggende dorpie in ’n sprokie verander.
By die bekende Mountain Shadow Lodge tussen Barkly-Oos en Elliot was gaste op Dinsdagoggend aangenaam verras om te sien dat hulle vir nog ’n nag of wat gaan moet oornag, want 45 mm se sneeu het die wêreld in ’n Switserse toneel verander.
Sagte reën en ligte sneeu sak steeds uit, terwyl temperature rondom vriespunt wissel.
Reisigers moet voorsiening maak vir warm komberse binne hul voertuie, want wanneer verkeer tot stilstand kom, raak dit briesend koud, soos reisigers Maandagnag terdeë besef het toe hul vir agt uur in ysige koue op die N10 vasgekeer was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’