HOFMEYR NUUS - Winters is koud in Hofmeyr. Tog is daar vele families wat nie matrasse vir hulself of hul kinders het nie.
"Ons het agtergekom dat daar huishoudings is wat geen matrasse het nie," vertel Ronel Gouws, wat in beheer is van opleiding by Hofmeyr Hugs of Hope.
"Om op 18 Julie met ons 67 minute vir Mandeladag 'n positiewe verskil te maak, het ons van ons naaldwerkdames opgelei in die stik en stop van matrasse."
'n Donasie van skaapwol wat nie geskik is vir bemarking nie, is ontvang vanaf Charles Jordaan van De Keur. Wol se isolerende eienskap is ideaal om te verseker dat die matrasse verhoed dat die koue deurslaan.
Die gesinne wat matrasse ontvang het, se nuwe kooigoed is by hul huise afgelewer, en is met groot opgewondenheid ontvang. Plaaslike inwoners wat bewus was van gesinne wat matrasse benodig, het ook na vore gekom, en beloof om matrasse vir gesinne te borg.
Daar is vervolgens dringend nog ongeweefde matrasmateriaal bestel, en 'n versoek het uitgegaan aan boere om wol, wat nie bemarkbaar is nie, aan Hofmeyr Hugs of Hope te skenk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’