WILLOWMORE NUUS - Werklose inwoners van Willowmore het gister na die munisipale kantoor in die dorp geloop, en die munisipale kantoor, verkeersdepartement, die toerismekantoor en die biblioteek in die dorp toegemaak.
Willowmore se brandweerdienste is ook tot stilstand gebring met die opdrag dat hulle net mag beweeg indien daar ‘n ernstige brand is wat bestry moet word.
Dit volg nadat hierdie inwoners by die munisipaliteit bymekaargekom het om antwoorde te eis oor die verlenging van 25 kontrakwerkers se kontrakte, maar daar glo niemand was om met hulle in gesprek te tree nie.
Hierdie kontrakwerkers is verlede jaar deur die munisipaliteit se direktoraat van gemeenskapsdienste in samewerking met die departement van bosbou, visserye en die omgewing op ‘n ses maande kontrakbasis aangestel, maar die kontraktydperk is intussen al twee keer verleng met ‘n addisionele ses maande.
Die volledige berig oor hierdie aangeleentheid sal in vandeesweek se uitgawe van Graaff-Reinet Advertiser geplaas word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’