GRAAFF-REINET NUUS - Willowmore se Natania Viljoen is die afgelope tyd druk besig om geskenkpakkies vir nuwe mammas in nood op te maak.
Hierdie pakkies bevat ’n gebreide stelletjie klere en teddiebeertjie vir die pasgebore babas, asook noodsaaklike toiletware vir die mammas, en sal binnekort by al die hospitale in die Dr Beyers Naudé Plaaslike Owerheid versprei word.
Viljoen verduidelik dat die DA verlede jaar sy DA gee om-projek van stapel gestuur het, maar aangesien sy nie ’n raadslid is nie, het sy besluit om self ’n soortgelyke inisiatief te begin. ’n Paar vroue help haar met die breiwerk, terwyl sy self die toiletware aankoop en die pakkies opmaak.
Op hierdie stadium is daar nog geen pakkies uitgedeel nie, aangesien haar doelwit is om eers 200 daarvan bymekaar te maak voordat dit by die vier hospitale in die munisipaliteit afgelaai word en aan die behoeftige mammas uitgedeel word.
“Dit is ’n klein gebaar vir ’n pasgebore baba wat andersins sy of haar lewe met niks sou begin omdat so baie mammas nie die fondse het om noodsaaklike items aan te koop nie,” sê sy.
Elke geskenkpakkie kos sowat R150, wat die koste van die wol om die truitjies, handskoentjies, mussies en teddiebeertjies te brei insluit.
Diegene wat graag betrokke wil raak is welkom om Viljoen by 076 108 0143 te skakel. Enige skenkings is welkom - hetsy kontant, toiletware, wol of selfs gebreide items.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’