WILLOWMORE NUUS - Die beheerliggaam (SBL) van Willowmore Sekondêr het Woensdag 8 Mei die drastiese besluit geneem om beide die skool en die koshuis vir 'n onbepaalde tyd te sluit. Dit beteken dat daar van gister, 9 Mei, geen klasse aangebied word nie.
Ouers van leerders wat in die koshuis woonagtig is, is glo versoek om hul kinders teen 16:00, gistermiddag, op die laatste te gaan haal.
Volgens Adam Festus, voorsitter van die SBL, het twee groot uitdagings by die koshuis tot hierdie besluit gelei. Die eerste hiervan is die gebrek aan herstelwerk wat die gebruik van badkamers totaal en al onmoontlik gemaak het. "Die badkamers is vuil en versprei net kieme," sê Festus.
"Blaasinfeksies onder die dogters neem toe, en gedurige verkoues en griepaandoenings onder die koshuisleerders is aan die orde van die dag."
Die ander probleem is dat daar geen aangestelde werkers is wat die koshuis behoorlik kan skoonmaak en daagliks in stand kan hou nie.
Festus sê herhaalde pogings om die department van onderwys tot die punt te kry om aandag aan hierdie probleme te skenk het tot dusver nie veel vrugte afgewerp nie.
Die dreineringstelsel is ook totaal verstop, en rou rioolwater vloei op die skoolgronde uit.
"Dit wat tans deur die department as oplossings aangebied word is nie vir die beheerliggaam aanvaarbaar nie," sê hy. Daarom het die beheerliggaam besluit om die skool en die koshuis toe te maak. Dit sal gesluit bly tot verdere kennisgewing."
'n Navraag rakende hierdie insident is aan die departement van onderwys gerig, maar geen kommentaar is nog ontvang nie.
Lees meer in die volgende uitgawe van Graaff-Reinet Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’