WILLOWMORE NUUS - Wat is fout met Willowmore se water? Dit is die groot vraag wat Willowmore se inwoners deesdae vir mekaar en vir die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit vra, omdat die water skielik 'n baie vreemde modderagtige kleur het wat die wenkbroue laat lig.
In 'n kennisgewing aan Willowmore se inwoners en besighede wat op 14 Junie op die munisipaliteit se Facebook-blad gepubliseer is, het die munisipaliteit bevestig dat daar, ná die onlangse reën, uitdagings met die verkleuring van water in Willowmore is.
Volgens die munisipaliteit het die storm aansienlike skade en 'n toename in die troebelheid van Willowmore se water tot gevolg gehad.
Die munisipaliteit het ook genoem dat hulle steeds moet werk met verminderde watertoevoer vanaf 'n spesifieke bron as gevolg van voortdurende uitdagings, en dat die watersuiweringsaanleg sukkel om die water effektief te behandel.
Inwoners en besighede is verseker dat die munisipaliteit se instandhoudingspan alles in hul vermoë doen om die huidige waterprobleme so gou as moontlik aan te spreek.
Raadslid Ewald Loock bevestig dat die onlangse swaar reën in Willowmore en omliggende gebiede inderdaad 'n baie groot impak gehad het. Volgens hom was daar geen ernstige probleme met die watertoevoer nie en was Willowmore se watersituasie eintlik baie goed vóór die reën.
"Dinge het mooi geloop – daar was geen beurtkrag nie en ons het lekker water begin kry – en al wat basies gedoen moes word was om die 2 km stukkende pyplyn vanaf Wanhoop na Willowmore op te gradeer. Maar toe kom die reën." Hy verduidelik dat baie van die pype wat van Groenkloof deur die rivier na Willowmore loop, weggespoel het. Verder het die damwal by Vaalwater ook gebreek en verdere verspoelings veroorsaak.
"Baie van die munisipaliteit se pypleidings is beskadig, maar die amptenare verantwoordelik vir water, sukkel om by al die plekke uit te kom, omdat die paaie verspoel het en gevolglik gesluit moes word. Die pad na Wanhoop waar Willowmore se waterbronne geleë is, moes ook gesluit word weens die verspoelings en daarom kon die amptenare aanvanklik glad nie daar uitkom om inspeksie te doen nie," sê Loock.
Rakende die modderagtige kleur van die water verduidelik Loock dat die water gewoonlik gelos word om te loop wanneer die rivier afkom sodat die ergste sediment eers kan afloop voordat dit in die fontein ingekeer word. Hierdie keer het daar net eenvoudig nie genoeg water na die suiwe-ringswerke gekom nie en daarom is die water direk in die suiweringswerke ingekeer. Volgens Loock het die water wel deur die suiweringswerke gegaan, maar die sediment in die fonteinwater veroorsaak nou dat die water baie troebel is. "Ons is baie dankbaar vir die reën omdat dit die ondergrondse waterbronne baie versterk, maar dit het gekom met aansienlik baie skade."
Loock is hoopvol dat hierdie skade spoedig herstel sal word sodat die kleur van Willowmore se water weer na normaal kan terugkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’