Video
KAROO NUUS EN VIDEOS - Willowmore het sedert Sondagaand minstens 105 mm reën gehad. ‘n Inwoner van die dorp het gister vertel dat sy Maandagoggend om 07:00 60 mm reën uit haar reënmeter gegooi het en Dinsdag weer 45 mm.
Nog reën het daarna geval. Die Noodslootrivier by die brug in Greystraat is oorstroom en die watervlakke by die brug naby die Congregational-kerk in die woonbuurt is baie hoog.
Die brug naby Zaaymans-vulstasie in Knysnastraat het deur die loop van die nag ook heeltemal oorstroom. Raadslid Ewald Loock het intussen bevestig dat die damwal op Shalom aan die bokant van die dorp gebreek het en dat dit dié water is wat nou deur die dorp stroom.
Die dam by Albertspark, sowat 20 km suidoos van Willowmore, loop ook oor vir die eerste keer in 22 jaar. Die Olifantsrivier vloei baie sterk en die watervlakke by die brug voor Barandas, waar die Olifantsrivier en Trakarivier bymekaar kom, was laas in 1996 so hoog. Die water van hierdie riviere is op pad na Oudtshoorn se Stompdrifdam. Johan du Pisani van Traka in die Vondeling omgewing, vertel dat dit daar tussen 60 tot 90 mm gereën het.
By Nuwekloof op pad na die Baviaanskloof en by Vaalfontein, suidoos van Willowmore, is daar 80 mm reën gemeet. Groot reën het ook in die Rietbron omgewing geval.
Raadslid Loock het al die videos en inligting wat hy van individue in die omgewing ontvang het vir Graaff-Reinet Advertiser aangestuur en daarna geskerts dat die Advertiser nou ‘n album van reën in die Willowmore omgewing kan saamstel.
“Meer kan ek jou nie sê nie behalwe dat dit nóú hard reën.” Volgens Loock raak die boere in die omgewing bekommerd oor die impak wat die reën kan hê. “Baie boere het klaar geskeer en het kaal bokke wat in die veld loop,” sê Loock. “Al die gewone rivierlope loop ook nou oor so die situasie is besig om bietjie gevaarlik te raak. Nie lewensgevaarlik nie, maar wel skade gevaarlik.”
Volgens Stefaan Conradie, 'n klimatoloog by die Universiteit van Kaapstad se Climate System Analysis Group, het die maandelikse data van die Suid-Afrikaanse Weerburo getoon dat sommige plekke in die Oos-Kaap, insluitend Willowmore, hul natste Junie-dag nog op rekord beleef het.
Verskafde videos:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’