HOFMEYR NUUS - Die inwoners van Hofmeyr was Sondagaand, 7 Desember, bevoorreg om die wêreldbekende sopraan Amira Willighagen in konsert te kon hoor.
Willighagen het “Holland’s got Talent” gewen toe sy slegs nege jaar oud was.
Die NG Kerk waar die konsert plaasgevind het, was versier in wit, silwer en blou, en Willighagen se goue aandrok het die feesgevoel versterk.
Sanet Coetzer, voorsitter van die kerkraad se dienswerkers, het gesê dat die gehoor geboei was deur die diepte en gevoel waarmee Willighagen elke lied aangebied het.
“Haar stem het soos ’n sagte gebed deur die kerk gevloei en elke hart aangeraak,” het Coetzer gesê, “’n heilige oomblik van musiek wat die siel voed.”
Na afloop van die konsert het Willighagen Kersgeskenkies aan die opgewonde kinders uitgedeel, waarna sy vir beskikbaar was vir foto’s en ’n onderhoud met Graaff-Reinet Advertiser.
Willighagen, wie se ma en broer saam met haar na verskeie Karoodorpe reis, het gesê dit is vir hulle ’n reuse voorreg om die Suid-Afrikaanse platteland te leer ken.
“Ek is reeds agt jaar in Suid-Afrika, en my moeder kom oorspronklik van Suid-Afrika, maar vir ons was hierdie die eerste besoek aan Hofmeyr, en ons is so beïndruk,” het sy gesê.
Dit was vir hulle ’n voorreg om in die historiese Victoria Boetiek Hotel te kon oorslaap.
Plaaslike gemeentelede, onder leiding van die musiekleidster van dié gemeente, Poppie van Heerden, het die reëlings vir die optrede en die versier van die kerkgebou hanteer.
Die hotelpersoneel het almal die konsert bygewoon en het agterna gehelp met bediening van eet- en drinkgoed in die kerksaal, waarvan ’n ruim bydrae deur die vroue van die gemeente gemaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’