GRAAFF-REINET NUUS - Sy was al 'n instelling, deel van die meubelstukke by die skool, maar verlede Vrydag, 23 November, het 'n geliefde skoolhoof en juffrou, Karin van Wyk, vir die laaste keer by die skoolhek van die WE Pienaar Pre-primêre Skool, oftewel Weppie Preppie, uitgestap.
Karin se laaste dag was gekenmerk deur leerlinge wat met trane in hul oë van hul geliefde juffrou moes afskeid neem.
Die oorblyfsels in haar nóú leë klas, soos die talle kleurvolle prente teen die muur, vertel 'n unieke storie van haar tyd by die skool.
Karin was betrokke in die onderwys vir die pas afgelope 40 jaar, waarvan sy 39 jaar daarvan by Weppie Preppie in diens was. Hier was sy vir 29 jaar, sedert 1989 tot en met haar uittrede verlede week, skoolhoof.
Sy het van die begin af as die skool se Graad R-juffrou ‘n groot verskil in dié skool se gemeenskap gemaak en het sy later as skoolhoof Weppie Preppie met ‘n kalm, maar ferm hand gelei en bestuur.
Tydens die Graaff-Reinet Advertiser se besoek aan Karin in haar klas verlede week, vertel sy hoe sy haar loopbaan as opvoeder by Laerskool Adendorp in 1978 begin het, waarna sy in 1979 by Weppie Preppie begin werk het - onbewus van hoe lank sy daar sal diens doen en hoeveel mense haar pad sou kruis.
Sy sê dat sy al hoe meer besef dat die skool haar roeping was en dat dit alles deel was van 'n "hoër hand" se beskikking.
"Ek het 'n baie groot deel van my lewe in die gange en klaskamers van dié skool deurgebring. Vandag weet ek dit was alles deel van die doel van my lewe en ek is nie een dag daaroor spyt nie. By Weppie Preppie het ek werklik die geleentheid gehad om as onderwyser te ontwikkel en groei en kon ek my passie vir die onderwys uitleef op vele terreine," sê sy.
Enige skool funksioneer as gevolg van die toewyding en uithouvermoë van die onderwysers, daarom bedank sy graag die personeel vir hul harde werk en vir die hoogstaande gehalte van onderrig.
"Ek was bevoorreg om saam met kollegas te kon werk wat die belange van die skool op die hart dra en vir die kleuters van Weppie Preppie altyd die ekstra myl sou loop," meen Karin.
Benewens haar skoolfamilie, gaan sy die geraas van die leerders ook mis. "'n Kind kan nie die hele dag in stilte werk nie," sê sy laggend.
Op die vraag 'Wat maak 'n goeie onderwyser?', antwoord sy, "Geduld en die vermoë om opreg na kinders te luister".
'n Groepie ma's verbonde aan Weppie Preppie het onlangs 'n gesellige afskeid vir Karin van Wyk gehou. Hier verskyn Marlene Pearson saam met Karin, Tasmin Knoesen, Amori van Jaarsveld, Annalize Steyn, Robin Terblanche en Helna van Rooyen.
Karin sê die opregtheid van Weppie Preppie se ouers is iets wat haar baie na aan die hart gelê het.
"Hierdie ouers se kinders is hulle alles! Hulle is eenvoudig eerlik en toegewyd in hul ondersteuning vir die skool," sê Karin.
Elene Lesch, wat na Karin se aftrede as waarnemende skoolhoof ingetree het, sê, "Totsiens sê altyd swaar! Karin was 'n onderwyser deur-en-deur en wou altyd 'n verskil in die kinders se lewens maak."
"Die skoolgemeenskap van Weppie Preppie sê graag vir Karin baie dankie vir haar jare se toewyding en ons wens haar ‘n vreugdevolle aftrede toe," sê Elene.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'