GRAAFF-REINET NUUS - Daar het onlangs dreigende donderstorms vir weke lank elke dag op die horison verskyn, net om weer te verdwyn in die noordoostelike Karoo.
Weerlig het talle veldbrande veroorsaak en duisende hektare weiding in die omgewing van Hofmeyr, Tarkastad, Cradock, Middelburg, Molteno, Steynsburg en Colesberg is binne etlike dae vernietig.
Sommige brande het hoog in obereikbare berge alle plantegroei uitgewis terwyl boere se eie spanne en Working on Fire magteloos moes toekyk.
Boere tussen Steynsburg en Colesberg moes op 5 Januarie van 02:00 bontstaan om te help vlamme blus, en ‘n boer vanuit die omgewing, Eben du Plessis, sê dat dit tydens sulke tye is wat bure en die gemeenskap soos een man saamstaan. Du Plessis het ‘n paar honderd hektaar weiding verloor.
Tien boere het Maandag 6 Januarie weer ingespring om vlamme te help blus.
Nadat Vossie van Straaten, net buite Molteno, Vrydag ‘n foto geneem het van kaktusse wat spierwit blom, het almal gewag op die reën wat reënkaktusse belowe, en jou waarlikwaar het daar Vrydag 4 Januarie enkele milimeters uitgesak.
Boere het in afwagting uitgesien na die res wat moet volg.
Saterdag se reën het meer belowende syfers getoon en Sondag het swaar reënbuie oor sommige areas uitgesak.
Tussen Hofmeyr en Molteno het daar tussen 80 mm en 120 mm geval en Fred Terblanche het 70 mm oor twee dae op sy plaas Romansfontein gemeet, terwyl Echbert Terblanche op Goedehoop, tussen Hofmeyr en Molteno, 53 mm gemeet het.
Naas Vermaak van Rietfontein in die Hofmeyrdistrik, het ‘n spoggerige 52 mm uit die reënmeter gegooi.
Vossie van Straaten het Sondagmiddag 80 mm op sy een plaas gemeet en net 3 mm op sy ander plaas, 20 km verder.
In die Hofmeyrdistrik het daar tussen 2 mm en 52 mm uitgesak met die hoogste reënvalsyfers by Michael Lord of Soeverein en Naas Vermaak op Rietfontein.
Daar is nog geen waterafloop in die Vlekpoortrivier nie, hoewel die veld reeds begin groen raak en die goudgeel Acacia Mimosablommetjies dadelik uit dankbaarheid begin blom het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’