GRAAFF-REINET NUUS - Hoërskool Cradock is opgewonde oor twee nuwe fasiliteerders wat hierdie jaar by hul span aangesluit het.
Mariëtte Nel
Mariëtte Nel is oorspronklik van Graaff-Reinet, maar woon sedert 2023 in Cradock.
In 2016 het sy 'n diploma in logistiek by Nelson Mandela Universiteit voltooi.
Tydens haar studies vir ’n nagraadse onderwyssertifikaat het sy in 2023 as studentfasiliteerder by Hoërskool Cradock aangesluit en as hoofafrigter van die dogtershokkiespan sowel as eerstespanafrigter gedien.
Verlede jaar het sy by Laerskool Cradock begin onderrig gee en die laerskool se eerste seunshokkiespan sowel as die CHS eerste dogterspan afgerig.
Vanjaar keer sy terug na Hoërskool Cradock en sluit by die personeel aan as hokkieafrigter en deel van die hokkiebestuurspan, sowel as voltydse EBW-, besigheidstudies- en lewensoriënteringfasiliteerder.
Nel se leuse vir hierdie jaar is: "Make a positive contribution in the life of each and every learner. Foster an attitude of 'pay it forward' without expecting anything in return. Good manners and friendliness have no price, but for the receiver it is priceless."
Ciske Hills
Hills, oorspronklik van Arlington, het haar BEd aan Kovsies voltooi en bring 'n ryk ervaring na Hoërskool Cradock. Sy was 'n interne student by Eunice Girls High School in Bloemfontein, waarna sy drie jaar onderrig gegee het by Hoër Landbouskool Marlow, buite Cradock.
Hills gaan natuurwetenskap en fisiese wetenskap aanbied, en haar passie vir hierdie vakke sal beslis 'n positiewe impak op Hoërskool Cradock se leerders hê.
Hills se leuse, "Embrace the challenges, they shape your strength", weerspieël haar sterk geloof in die belangrikheid van uitdagings in die leerproses. Sy is vol entoesiasme om die nuwe jaar aan te pak en om saam met Hoërskool Cradock te groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’