GRAAFF-REINET NUUS - Die skoknuus dat geen chemoterapiemedikasie in staatshospitale in Gqeberha beskikbaar is nie, is nie alleen 'n gesondheidsorgkwessie nie, maar 'n morele kwessie.
"Elke dag van gebrek aan optrede kos lewens, en daar kan nie stilgestaan word, terwyl pasiënte ly en sterf weens die departement se growwe nalatigheid nie.”
So sê LP Jane Cowley, die DA se skaduminister vir gesondheid. Sy sê die onkologie-afdeling in die stad se provinsiale hospitaal staar verwoestende chemoterapietekorte in die gesig omdat die Oos-Kaapse departement van gesondheid versuim het om sy farmaseutiese verskaffers te betaal.
Pasiënte te siek vir oorplantings
Pasiënte met behandelbare kankers word nou behandel met tweedelynmedisyne wat nie so doeltreffend is nie. Talle pasiënte se toestand het so versleg, dat hulle nie meer kwalifiseer vir prosedures soos beenmurgoorplantings nie.
“Oos-Kapenaars kan met reg woedend wees. Die finansiële wanbestuur is nie meer net 'n burokratiese mislukking nie, dit is 'n doodsvonnis.”
Administrasie
Cowley eis dat die Oos-Kaapse departement van gesondheid onder administrasie geplaas word.
“Wat by die provinsiale hospitaal gebeur, is net een voorbeeld van 'n gesondheidsorgstelsel wat in duie stort onder die gewig van onbevoegdheid, korrupsie en misplaaste prioriteite. Hierdie krisis raak nie net pasiënte vandag nie.
Dit bedreig die hele toekoms van ons gesondheidsorgstelsel. Deur te versuim om verskaffers van noodsaaklike middels te betaal, stel die departement homself bloot aan selfs meer mediese regseise.”
Betaling vereis
Cowley het die LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa, gevra om dadelik die verskaffers te betaal. Sy het ook gevra vir 'n dringende herbeoordeling van die departement se bestedingsprioriteite. Geld wat aan nie-kernprogramme bestee word, moet gebruik word om lewens te red.
Die Graaff-Reinet Kankervereniging het aan die Advertiser gesê dié vereniging kan nie uitsprake lewer nie, aangesien hul slegs kankerpasiënte in Graaff Reinet ondersteun om vir hul kankerbehandelings te gaan, en nie self betrokke is by die medikasie- en behandeling van pasiënte in hul sorg nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’