GRAAFF-REINET NUUS - Talle eienaars van eiendomme in die Dr Beyers Naudé munisipale area is weereens erg ontstoke nadat hulle op Maandag 26 Augustus in kennis gestel is dat hulle net tot Vrydag 30 Augustus, kan appèl aanteken teen die uitslag van hul besware oor die 2024-2029 waardasierol.
Die waardasierol het vroeër vanjaar groot opskudding veroorsaak omdat die waardes van eiendomme drasties verhoog is.
Veral eienaars in Graaff-Reinet, Willowmore, Jansenville en Steytlerville het beswaar aangeteken.
Die wet vereis dat 'n munisipale waardeerder elke persoon wat beswaar aanteken skriftelik in kennis moet stel van die besluit aangaande die beswaar en enige aanpassings aan die waardasielys.
Appèl teen 'n waardasie moet binne 30 dae vanaf die datum waarop die skriftelike kennisgewing aan die beswaarmaker gestuur is aangeteken word. Indien die beswaarmaker redes vir die waardeerder se besluit versoek het, moet die appel binne 21 dae vanaf die datum waarop die redes aan hom of haar gestuur is aangeteken word.
Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se waardeerders het bevestig dat die beswaarproses op 31 Julie afgehandel en die kennisgewings op 1 Augustus uitgestuur is. Volgens hulle moet alle kennisgewings op dieselfde dag uitgestuur word sodat daar net een appèl periode kan wees.
Diegene met e-posadresse se kennisgewings is via e-pos aangestuur en die res is per gewone pos uitgestuur. Ten spyte hiervan het baie beswaarmakers nog geen kennisgewings ontvang nie. Beswaarmakers met e-posadresse wat nog geen kennisgewings ontvang het nie is omgekrap omdat hulle 'n redelike verwagting gehad het dat hulle dit betyds sou ontvang. Ander is omgekrap omdat die munisipaliteit en die waardeerders, volgens hulle, goed weet dat die Suid-Afrikaanse posdiens disfunksioneel is en sommige dorpe glad nie eens poskantore het nie.
Die waardeerders het erken dat die posdiens nie van die beste is nie, maar beklemtoon dat nie hulle of die munisipaliteit beheer daaroor het nie.
Raadslid Ewald Loock doen 'n ernstige beroep op almal wat beswaar aangeteken het maar nog geen terugvoering ontvang het nie, om die nasionale bestuurder van die munisipale waardeerders, Corné Louw, te skakel by 082 459 5401.
"Of u terugvoering ontvang het op u beswaar of nie, alle antwoorde op besware is op 1 Augustus uitgestuur aldus die waardeerder," sê hy. "As u nie reageer nie sal u waardasie bly soos op die rol gewaardeer."
Die gefinaliseerde waardasierol is tans by alle munisipale kantore beskikbaar en sal ook binnekort op die munisipaliteit se webtuiste publiseer word sodat beswaarmakers wat geen kennisgewings ontvang het nie, die reaksie op hul besware kan besigtig en kan besluit of hulle appèl wil aanteken.
Volgens Loock is dit net 'n praktiese reëling om dit vir diegene wat wil appelleer moontlik te maak om dit te doen voor die sluiting van die appèlperiode.
Indien beswaarmakers nie binne die appèlperiode appelleer nie en uitstel wil hê, sal die minister van samewerkende regering en tradisionele sake kondonasie daarvoor moet gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’