NXUBA NUUS - “Waar is ons water?” Dit is die vraag waarop inwoners in Nxuba antwoorde van die Chris Hani Distriksmunisipaliteit (CHDM) eis nadat al die wyke van Nxuba sedert 19 Maart sonder water is.
Inwoners het by die Geelbooi-waterinlaat en opgaardamme in Cradock vergader om vrae aan munisipale personeel te vra oor die vertragings met watervoorsiening.
Waterpompe
Volgens Kobus Botha, DA-verteenwoordiger in Nxuba, is die situasie toe te skryf aan die uitbrand van twee kritieke waterpompe se motors weens ’n Eskom-hoëspanningstuwing.
Pogings om die pompe te herstel was onsuksesvol, en daar is slegs een kleiner pomp wat funksioneer.
Die groot bystand-dieselgenerator is ook buite werking.
Die reservoirs word gevolglik nie vol genoeg om aan die hele dorp standvastige water te verskaf nie.
Weens tegniese komplikasies het die CHDM nou die dienste van ’n eksterne diensverskaffer bekom.
As gevolg van besoedeling is die water van die Groot Visrivier wat verby die dorp vloei, ook nie geskik vir menslike gebruik nie.
Volgens senior amptenare by die Geelbooi-opgaardamme sou drie watertrokke ontplooi word om water te verskaf, maar slegs as ’n tydelike maatreël.
Dit was egter onduidelik wanneer, waar en hoe hulle geskeduleer sou word om die verskillende wyke te bedien.
Geduld is op
Botha sê wateronderbrekings in Cradock en Middelburg het oor die jare meer gereeld begin voorkom en daar is geen werklike verbintenis aan die kant van die Chris Hani-distrik en die provinsiale bestuur om dit reg te stel nie.
“Mense se daaglikse roetines word fundamenteel geraak en gemeenskappe se geduld raak nou op,” sê Botha.
“Langtermyn-ontwrigtings kan ook selfs lei tot angs, stres en geestesgesondheidsprobleme vir inwoners.”
‘Swak onderhoud’
Heinrich Müller, die DA-kiesafdelingleier in die Ook-Kaap Middellande, het gesê dat een van die pompe wel herstel kon word, maar die enkele pomp is nie sterk genoeg om alle areas van water te voorsien nie.
“Die waterkwessie word veroorsaak deur swak onderhoud.
Die funksie moet privatiseer word,” het hy gesê.
Dit al die meer as ’n week dat die inwoners van die Inxuba Yethemba-munisipaliteitsonder water sit.
“Hoewel Menseregtedag op 21 Maart herdenk is, word hierdie inwoners hul fundamentele reg op water ontsê,” het Müller gesê.
“Hierdie situasie is nie ’n roetine-diensonderbreking nie.
Dit beïnvloed die inwoners se toegang tot voldoende water en hou ’n onmiddellike bedreiging in vir openbare gesondheid, waardigheid en ekonomiese aktiwiteit.
Gemeenskappe kan nie langdurige wateronderbrekings verduur sonder kommunikasie, en geloofwaardige tydlyne nie.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’