STEYNSBURG NUUS - Twee toegewyde vroue van die instansie "Women Arise" in Steynsburg, het aand die begin van September 'n opvoedkundige program van stapel gestuur, om leerders te begelei en besig te hou word.
Hierdie program sal regdeur die Oktober-skoolvakansie voortduur.
Women Arise is in 2018 gestig deur Cathy Koeberg, wat die nood in Steynsburg raakgesien het.
“Dit was veral op Sassa-dae en aan die einde van die maand, wanneer plaasmense kom inkopies doen het, wat ek die toedrag van sake nie kon hanteer nie.
Skreeuende babas van mammas wat rondhang of dronk is.
Pappas wat handgemeen raak, of eenvoudig by die drinkplekke ingaan en nie weer vir die dag te voorskyn kom nie, en hordes kindertjies, wat opgewonde was oor die dag in die dorp, wat rondhang.
Soms was die kinders karig geklee, sommige met somerplakkies in die middel van die winter, en ander met dikke wintersbaadjies in die middel van die hittigste somerdae, maar altyd, altyd was daar vir hulle geen kos, en niks om te drink nie.
"Ek het vervolgens 'n opleidingsessie in Tarkastad bygewoon in bategebaseerde gemeenskapsgedrewe opheffing (ABCD) en my oë het oopgegaan, want ek het geweet ons sou hierdie nood in ons klein gemeenskappie kon aanspreek.
Ek het 'n aantal vroue vanuit die gemeenskap byeengeroep, en die NPO 'Women Arise' is in die lewe geroep.”
Koeberg en een van haar bestuurslede, Nandipha Bokwe, het onlangs besluit om die leerder-opheffing- en -ondersteuningsprogram te loods en 'n program is opgestel om leerders aktief besig te hou en nuwe vaardighede aan hulle oor te dra.
Koeberg, 'n afgetrede mediese suster, beskik oor die nodige vaardighede om gesondheidskrisisse raak te sien en aan te spreek.
As 'n fikse mens kan sy ook byhou met al die sportaktiwiteite wat aangebied word.
Sy is ook vaardig in onderhoudvoering en probleemhantering, en sy woon naby genoeg dat mense met probleme enige tyd na haar kan gaan vir bemoediging.
Intussen lewer Koeberg steeds waardevolle diens by die Marais Steyn Tehuis vir bejaardes in Steynsburg, waar sy na jare se pligsgetroue diens aan die bejaardes, steeds geliefd is.
“Ons moet ons kinders uit die strate te hou en hulle lewensvaardighede leer, want die meeste werk lê by ons kinders.
Hulle is immers die toekoms," sê Koeberg tydens haar onderhoud met die Graaff-Reinet Advertiser.
"Deur die kwartaal neem ons hulle elke Saterdag onder ons vlerk.
Ons skerp Goddelike waardes in en bied talle ontspanningsoefeninge aan.
Dit bly hartverskeurend om te sien hoeveel kinders uit uiters moeilike omstandighede kom en berading nodig het.
Ons sal ook hierdie kinders moet voed, want daar is beslis groot nood rondom voeding tussen die kinders in Steynsburg.
“Vroue moet ook inligting en voorligting kry, drankmisbruik en mishandeling kom algemeen voor, en vroue het geen selfbeeld nie; hulle verval in 'n siklus sonder toekoms.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’