KAROO NUUS - In elke dorp in Suid-Afrika gaan die pleidooie op van werklose vroue wat na gesinne moet omsien. In die Oos-Kaap, waar kinders by grootouers agtergelaat word sodat ouers elders kan gaan werk, is die probleem nog groter.
Die lewenskoste in groter sentra is duur en daar kom selde of ooit geld terug na die grootouers. Op die platteland is werksgeleenthede egter dun gesaai en armoede is die uiteinde van werkloosheid.
“Die stryd om geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue te verseker het op 8 Augustus ’n aansienlike hupstoot gekry nadat ’n mosie van die DA om ’n Oos-Kaapse geslagshervormingsbeleidsraamwerk daar te stel eenparig in die Bhisho-wetgewer aanvaar is,” sê LP Chantel King, die DA-verteenwoordiger van die veelparty-vrouekoukus.
Die mosie doen 'n beroep op die premier en die veelparty-vrouekoukus om die beleidsraamwerk daar te stel om duidelike riglyne te ontwikkel vir dienste, beleide, prosedures en praktyke gebaseer op geslagsgelykheid en die behoeftes van vroue.
Meer as 35% Suid-Afrikaanse vroue is werkloos - 'n duidelike teken dat gelykheid in die arbeidsmark hulle steeds ontwyk. Vroue van so jonk as 30 word gedwing om hul beroepe te verlaat om na kleinkinders om te sien, dikwels die babas van skoolgaande kinders.
“Werkloosheid en armoede duur ook voort onder jong vroue in die Oos-Kaap as gevolg van gedwonge vroeë huwelike, tienerswangerskappe en sosiale en tradisionele norme en wette. Hierdie optredes verhoed baie om 'n sekondêre opleiding te voltooi. Die bemagtiging van vroue behels die verhoging van hulle status deur opvoeding, bewustheid, geletterdheid en opleiding.
“Die mosie doen ook 'n beroep op die bevordering van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in beleid en wetgewende hervormings in die Oos-Kaap. Die bevordering van hierdie doelwitte sal hindernisse vir die ontwikkeling van vroue verbreek en sal help met die bou van inklusiewe stelsels in die provinsie,” sê King.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’