KAROO NUUS - Die liggaam van 'n 64-jarige vrou is Maandagoggend, 9 September, om 11:00 in Aberdeen agter die pawiljoen by die sokkerveld in Booi Jantjiesstraat, Thembalesizwe gevind.
Volgens Adjudant Majola Nkohli, woordvoerder van die SAPD in die Sarah Baartman-distrik, is die oorledene, Hazel Payers, met verskeie wonde aan haar bolyf aangetref.
Hy doen 'n beroep op mense met inligting om hul naaste polisiestasie te kontak of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
Talle Aberdeen-inwoners het vroeër vanjaar hul kommer uitgespreek oor die styging in vreemde sterftes in die plattelandse dorpie.
Op daardie stadium het Kolonel Priscilla Naidu aan Graaff-Reinet Advertiser gesê dat ses sake ondersoek word en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
‘n Bron het aan die Advertiser gesê dat talle gevalle onopgelos bly as gevolg van verskeie redes. "Die outjie wat langs die pad gekry is... sy lyk was te erg ontbind om die oorsaak van dood te bepaal. So, al was dit heel moontlik moord, is die dossier gesluit want daar is geen bewyse nie. Dan, die ashoop baba - daai is dalk 'n oop dossier maar die saak vorder nie want forensies is uitstaande. En die hele saak berus daarop. Dan is daar die vrou wat verkluim gekry is - party weet iets en lys dit as moord. Ander getuig sy was besope en het verdwaal en geval. Weereens - geen getuies en geen bewyse. Ek kan vir jou sê in die laaste twee jaar is hier baie meer vreemde afsterwes as in ons eerste jaar hier.”
Naidu het bevestig dat ondersoeke voortduur en ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om na vore te kom met inligting.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’