GRAAFF-REINET NUUS - 'n Vrolike vrag inkopiesakke trek die aandag van besoekers by 'n paar besighede in Burgersdorp en talle van die bont inkopiesakke reis reeds die wêreld deur.
Marie Botha (77) het 'n hart vir die omgewing en sy glo nie aan aftree en terugsit nie. Daarom spandeer sy elke beskikbare oomblik om elke plastiek winkelsak waarop sy haar hande kan lê, te verwerk en te herbenut.
Sy maak vragte gebruikte winkelsakke bymekaar, was hul silwerskoon, hang dit uit in die son wat die plastiek bietjie sagter maak, en daarna sit sy vir ure om repe te sny uit elke sak. Dié repe word dan in helderkleurige bolle gerol.
Sy is permanent besig en hekel die een vrolike sak na die ander.
Haar dogter, Mariette Strydom, help met die bemarking van Marie se sterk inkopiesakke wat ook gemaklik dra.
Elke sak is ten volle wasbaar, en kan vir enige iets, van breiwerk tot vars groente gebruik word.
Die sakke is so billik geprys, dat mens dit weliswaar as 'n geskenksak vir 'n kersgeskenk kan gebruik.
Marie sê elke liewe weggooisakkie is bruikbaar, al het die handvatsels geskeur en al was dit al 'n slag op 'n vuilgoedhoop.
Daar is met een reël, en dit is dat Marie nooit sakke koop nie, want sy werk dan reeds elke uur van elke dag om plastiekbesoedeling te beperk.
Graaff-Reinet Advertiser se gunstelingsakke is die sakkie uit Oumablokkies (granny squares) gehekel, maar daar is ook sakke wat met soveel detail en blomme versier is, dit raak moeilik om te kies.
Kontak Mariette by 071 718 3797 as jy dalk 'n sak, of twee of drie, wil bestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’