GRAAFF-REINET NUUS - Terwyl ’n ernstige droogte boerdery-aktiwiteite in die Karoo lamlê en die dreigende uitbreking van bek- en klouseer boere landwyd tot kommer stem, sit inwoners van Hillside by Nxuba in die Inxuba Yethemba Plaaslike Munisipaliteit reeds vir geruime tyd sonder water in hul krane en toilette.
Klagtes oor watertekorte, en in sommige gevalle die totale afwesigheid van water, val volgens inwoners dikwels op dowe ore.
Slegs wanneer plaaslike gemeenskapsleiers ingryp, word daar soms water aan huishoudings voorsien in 5- of 25-literkanne.
Die onstabiele watervoorsiening in Cradock lei tot gereelde onderbrekings, hoofsaaklik weens probleme by pompstasies, verouderde infrastruktuur en kragonderbrekings (beurtkrag) wat veroorsaak dat reservoirs leegloop.
Hoërliggende gebiede soos Bergsig en Hillside word veral swaar getref. Alhoewel tegniese spanne voortdurend herstelwerk doen, duur die krisis reeds sedert 2021 voort.
Plaaslike gemeenskapsleier Petrus Plaatjies sê egter hy het kennis van waterprobleme wat reeds vir die afgelope 15 jaar voorkom.
Hy het dikwels sy eie voertuig gebruik om water aan inwoners te voorsien en het tot so onlangs as Maandag, 26 Januarie, nog waterkanne in Eddie Minerstraat afgelewer.
“Ek was ongelukkig nie bewus van die watertekort in Freedom Avenue nie, anders sou ons ook daar kon help,” het Plaatjies gesê.
Gebiede soos Bergsig, Hillside en ander hoërliggende woonbuurte word die meeste geraak omdat die waterdruk uiters swak is en water nie die gebiede bereik wanneer daar wel beperkte toevoer is nie.
Inligting dui daarop dat kragonderbrekings, foutiewe pompe en veral probleme by die Geelbooi-pompstasie gereeld bydra tot die situasie.
Watertenkwaens word wel ingespan om water te voorsien, maar volgens inwoners gebeur dit nie gereeld of voorspelbaar genoeg dat hulle voorbereid kan wees wanneer die tenkwaens opdaag nie.
Die voortslepende krisis het tot groot frustrasie onder inwoners en besighede gelei en beïnvloed ook noodsaaklike dienste.
Die Provinsiale Hospitaal in Cradock sowel as die korrektiewe fasiliteit buite die dorp word volgens berigte gereeld deur watertekorte geraak.
“Inwoners het op 29 Januarie met groot afwagting die watervoorsieningstrokke verwelkom wat uiteindelik opgedaag het,” het Andrew Whitfield, Parlementslid en DA-provinsiale leier, gesê.
Volgens Whitfield is inwoners in dié woonbuurte geheel en al afhanklik van watervragmotors van die Chris Hani Distriksmunisipaliteit (CHDM).
“Dit is ’n stelsel wat so disfunksioneel is dat dit aan verwaarlosing grens. Hierdie vragmotors is veronderstel om weekliks ’n JoJo-tenk in die gemeenskap te hervul, maar arriveer eerder sporadies en onvoorspelbaar, wat inwoners dae en dikwels weke sonder water laat.”
“Dit is nie ’n natuurramp of ’n onvermydelike uitdaging nie.
Dit is die direkte gevolg van volgehoue regeringsmislukking, wanbestuur en ’n algehele minagting vir die waardigheid van hierdie gemeenskap,” het Whitfield bygevoeg - ’n siening wat ook deur plaaslike inwoners gedeel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’