GRAAFF-REINET NUUS - Die voorsitter van die Hofmeyr-landbouvereniging, Ettienne Roux, van die plaas Allemansvlei in die Hofmeyrdistrik, was bevoorreg om 'n volle maand by sy seun in Frankryk te kuier.
Janse Roux (27), 'n boerseun van Hofmeyr en oudleerder van Hoër Landbouskool Marlow, is ‘n Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat ‘n volle 2m lank is en 125kg weeg. Hy speel tans in die US Colomiers-rugbyspan in Frankryk as slot.
Roux se rugbyloopbaan, ná skool, het in 2016 begin toe hy as student by die Nelson Mandelabaai Universiteit vir die Oostelike Provinsie Olifante uitgedraf het. Hy het ook ‘n gedeelte van 2017 ivir dié span gespeel.
Gedurende 2017 ontvang hy ‘n uitnodiging om na Frankryk te gaan, waar hy by die CS Bourgoin Jallieu-rugbyklub aansluit en daar as slot speel tot 2019.
Die Soyaux-Angoulême XV Charent-rugbyklub werf hom as speler gedurende 2019 en hy speel vir die klub tot 2023.
As top-speler word Janse in 2023 raakgesien deur die spanbestuurders van die US Colomiers-rugbyspan en hy sluit vervolgens met hulle ‘n kontrak. Hy is steeds by dié span betrokke.
Janse het sy pa op die hande gedra tydens ‘n maandlange Franse winterkuier.
Hulle het saam rondgereis en alles beproef, terwyl Janse met sy fiksheidsprogram en wedstryde bygehou het. Dit is immers nou rugbyseisoen in Frankryk.
Hy het sy pa spesiaal bederf, want Ettienne het sy verjaardag vanjaar by sy seun gevier! "DIt was vir my ‘n hoogtepunt om my seun se lewe, so ver van die plaas af, te ervaar. Ek is ongelooflik trots op hom. Enige pa sou wees!" spog Ettienne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’