GRAAFF-REINET NUUS - Na 'n tydperk van lang verwagting en afwagting het Hoër Volkskool 'n nuwe hoof gekry. Die skool was vir sowat 18 maande sonder 'n permanente hoof nadat Theo Dörfling afgetree het. In hierdie tyd het Henriëtte Malan waargeneem as skoolhoof, en daar is met opgewondenheid aangekondig dat sy aangestel is as Volkskool se nuwe skoolhoof.
Malan is nie 'n vreemdeling aan die skool nie, aangesien sy reeds 'n uitstaande reputasie as 'n toegewyde opvoeder en bestuurder opgebou het.
Sy het in April 1996 by Hoër Volkskool aangesluit as 'n jong nuwe juffrou. In Julie 2015 is sy as departementshoof aangestel. Deur die jare het sy bewys dat sy 'n betroubare en hardwerkende onderwyseres is.
Die skoolgemeenskap sien uit daarna om onder Malan se leierskap nuwe hoogtes te bereik. Haar passie vir die onderwys, haar ervaring en haar verbintenis tot die welstand van die skool en sy leerders maak haar 'n uitstaande keuse vir die posisie van hoof.
Haar visie vir haar rol as hoof is as volg: "Ek streef daarna dat elke leerder, onderwyser, ouer en oudskolier regtig 'n ware, trotse Volksie sal wees."
Die personeel, leerders en beheerliggaam is vol vertroue dat die nuwe hoof 'n positiewe impak op die skool sal hê en 'n erfenis van sukses sal vestig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’