GRAAFF-REINET NUUS - Laer Volkskool Graaff-Reinet het die afgelope week sy gr. 1-leerders elkeen met ’n bonesaailing huis toe gestuur.
Foto’s van die leerdertjies met hul glasies waarin hul saailinge geplant is het oral op sosiale media verskyn, en het groot opgewondenheid ontketen.
Want wie kan nou nie daardie wonder van ’n boontjiepit of ses tussen twee klam snesies of twee lagies klam watte onthou nie?
Elkeen wat die ervaring gehad het, weet tot vandag toe hoe om boontjiesaailinge te maak, hoe hulle ontwikkel en hoe hul koppies vanself weet watter kant die lig is, en daardie groot wonder wanneer daardie pit met die twee of drie blaartjies en die paar worteltjies begin posvat - en die wonder hou net nooit op nie.
Elkeen van die leerdertjies glo egter nou vas dat hulle geswore groenteboere is, en kon met groot trots en opgewondenheid hul saailinge huis toe neem om uit te sien na die vrug van hul handewerk.
By Volkskool word daar nie net uit boeke geleer nie, maar ook uit die natuur, en dié skool nooi die inwoners van Graaff-Reinet om saam te groei!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’