GRAAFF-REINET NUUS - By Laer Volskool in Graaff-Reinet is daar op 2 Oktober ’n Beroepsdag vir die graad 1’s gehou en die fasiliteerders van die grondslagfase-klasse het besluit om letterlik in iemand anders se skoene te klim!
So dikwels gebeur dit dat jy dink jy kan beter doen as die een wat in die beroep staan - tot jy in sy skoene staan.
Die leerders het ook hierdie uitdaging aanvaar.
Die graad 1-leerders se drome het kleurvol tot lewe gekom, want die jong Volksies het elkeen soos hul gunsteling beroep aangetrek, en dokters, prokureurs, juffrouens, jagters, rugbyspelers, ’n hele span veeartse, ’n peleton polisiemanne, 10 boere en ’n sakeman het op 2 Oktober by die skool opgedaag.
Met al hierdie kreatiewe uitrustings het hierdie jaar se gr.1-leerders gewys dat die toekoms groot drome inhou.
Onder die fasiliteerders was daar ’n toegewyde tuinier wat met trots haar groen vingers gewys het, ’n voorbeeldige ballerina wat die kinders laat glimlag het met haar bewegings, en ’n nuuskierige wetenskaplike wat die wêreld vol vrae sien.
’n Glimlaggende lugwaardin het die kinders op ’n “vlug van verbeelding” geneem, terwyl ’n huisvrou gewys het dat alledaagse take net soveel waarde dra.
’n Tandarts het ook deelgeneem en die belangrikheid van ’n gesonde glimlag beklemtoon.
Om die dag af te rond, het ’n professionele sjef, Hesti van der Mescht, van The Coldstream Restaurant, die kinders laat droom van heerlike geure.
Die boodskap wat op die dag aan die leerders oorgedra is, is dat elke beroep betekenis dra, maak nie saak hoe groot of klein nie.
Die gr. 1-leerders het eerstehands beleef dat drome begin met verbeelding – en dat jy enigiets kan word as jy dit met oorgawe nastreef!
Dit was voorwaar ’n dag vol glimlagte, inspirasie en trots, en weer ’n keer is elkeen daaraan herinner dat die verwesenliking van elke droom begin by ’n eerste tree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’