HOFMEYR NEWS - Shaun Vermaak, 'n siviele ingenieur en plaasboer, wat saam met sy vrou, Nastasha en hul dogtertjie Kara op die plaas Klipplaatsdrift in die Hofmeyrdistrik boer, laat nie toe dat 'n vol rivier hom tuis hou nie.
"Ek moes 'n dringende vergadering bywoon Woensdagoggend laas week, en besef ek sal ekstra planne moet maak om daar te kan wees," sê Vermaak.
Hy het reeds die vorige nag, toe dit om 02:00 begin reën, sy plannetjies agtermekaar gekry.
Die rivier het redelik sterk geloop oor die vorige paar dae, en met die ekstra reën, het hy besef dat daar moeilikheid sal wees. Hy het al vantevore met sy Land Cruiser probeer deurgaan as die rivier in vloed is, en die water het by die deure ingesyfer.
Vroegoggend het hy sy swembroek aangetrek, en sy klere, skootrekenaar en selfoon in 'n swart sak gepak. Nastasha het hom tot by die Vlekpoortrivier geneem, en hy het eenvoudig die swart sak op sy rug vasgemaak en deurgeswem. Gelukkig is Vermaak 'n kranige swemmer.
"Ek was 'n hele uur te vroeg vir die vergadering," sê hy ingenome.
Laatmiddag met sy terugkeer, het Nastasha en Kara hom ingewag, maar toe is die rivier heelwat voller en sterker.
Maar hy kon met dieselfde plan deurkom, en het heerlik in sy eie bed geslaap na 'n dag vol avontuur.
En na 65 mm reën is selfs 'n rit op die grondpad tussen Klipplaatsdrift en Hofmeyr 'n avontuur!
Veilig terug na 'n dag vol avontuur, en klein Kara gaan haal vir pappa Shaun Vermaak in die vlakwatertjies van die rivier. Foto's: Nastasha Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'