HOFMEYR NUUS - Vroue van Hofmeyr se Vroue-landbouvereniging (VLV) en Hofmeyr-tuinbouklub het Dinsdag 23 Julie met hul grawe, rantsnyers, snoeiskêre, waterstewels, harke en sonhoede die dorp se openbare tuine en parke ingevaar en skoongemaak.
Elke vrou het ook haar regterhand in haar eie tuin saamgebring en saam-saam is droë takke en wintergrasse verwyder, blare is weggehark, plek-plek is daar deeglik met die snoeiskêr ingespring en die rantsnyers het gedreun om deur digte rante en oorgroeide grasse te sny.
Sakke vol vetplantjies is op kaal kolle geplant, en daar is ook 'n verskeidenheid kaktusse geplant.
"Hierdie parke en tuine is afhanklik van rioolwater wat Barend Opperman, die suigpompoperateur, goedgunstiglik oor die tuine kom spuit, want hier is in dié gedeeltes van die dorp geen lopende water aangelê nie," vertel Nadia Bosch, voorsitter van beide die tuinbouklub en Hofmeyr VLV.
Ronel Gouws het gesorg vir middagete en drinkgoed. Baie dankie aan haar en aan almal wat hand bygesit het om die dorp te verfraai.
Droë blare word uit aalwyne gesny.
'n Jaar nadat die volwasse aalwyne hier uitgeplant is, staan hul vol in blom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’