GRAAFF-REINET NUUS - Somerset-Oos Vroue-Landbouvereniging (VLV) het besluit om 2025 se pad met kreatiwiteit en samehorigheid oop te trap.
Die dames van die Somerset-Oos VLV-tak se eerste vergadering op 29 Januarie was 'n gesellige dag vol inspirasie.
Lede het hul artikels vir die sirkelkonferensie na die vergadering geneem vir voorlopige beoordeling, en die skeppende talent het behoorlik geseëvier.
Tussen heerlike koek en tee, is daar ook 'n demonstrasie aangebied deur Isabel Wilken, hul voorsitter en leefstyl-sameroeper. Sy het meer vertel oor die kuns van vervilting, 'n unieke tegniek wat van sagtheid en tekstuur 'n meesterstuk maak.
"Ons sien uit na 'n wonderlike jaar saam en wens al die lede sterkte toe met hul voorbereidings vir die sirkelkonferensie," sê Jean-Mari Gouws, sekretaresse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’